Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Susterkerke nie deel van hofaansoek

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum (SANCF) se dringende hofaansoek oor die inperkingsregulasies wat bepaal dat kerke gesluit moet wees, is tydelik uitgestel nadat verskeie organisasies aangedui het dat hulle deel wil word van die aansoek.

Biskop Marothi Mashashane, leier van die forum, sê die saak sou Dinsdag op ’n dringende grondslag in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

Die forum het sy aansoek teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Vrydag ingedien. Die forum vra dat die regulasies irrasioneel en ongrondwetlik verklaar word.

In die hofaansoek word verder aangevoer dat die sluiting van kerke “geestelike werkers (pastore) saam met hul gesinne honger laat”.

Ek verstaan dat dit vir party ’n enorme krisis is, maar ’n mens kan nie net na jou eie krisis kyk nie. ’n Mens moet die verantwoordelike ding doen wat in belang is van jou lidmate én jou gemeenskap.

Volgens Mashashane het die minister ook nie behoorlik besin voordat sy haar besluit gepromulgeer het nie.

“Sy het nie gedink aan die geestelike of emosionele impak wat haar besluit op gemeentes het nie. Boonop het sy nie ag geslaan daarop dat kerke nie die superverspreider van Covid-19 is nie, maar huwelikseremonies en begrafnisse,” het Mashashane gesê.

Hy meen kerkdienste is veiliger as dié geleenthede en moet toegelaat word om, soos in vlak 1, onder streng voorsorgmaatreëls voort te gaan.

Drie van Suid-Afrika se hoofstroomkerke, die NG Kerk, Gereformeerde Kerk en Nederduitsch Hervormde Kerk, sal hulle egter nie by die forum se aansoek aansluit nie.

“Dit is bloot net die verantwoordelike ding om te doen,” het dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se kommunikasiekommissie, gesê met verwysing na die verbod op kerkdienste.

Hy het wel toegegee dat die onsekerheid oor wanneer kerke weer mag dienste hou, druk op gemeentes plaas. Alles, van dienste, gemeenskapsprojekte en kategese tot fondsinsamelings word ontwrig, sê Van Wyk.

“Ek verstaan dat dit vir party ’n enorme krisis is, maar ’n mens kan nie net na jou eie krisis kyk nie. ’n Mens moet die verantwoordelike ding doen wat in belang is van jou lidmate én jou gemeenskap,” voeg hy by.

Die NG Kerk beskou die pandemie as ernstig en moedig lidmate aan om tuis te bly, hoewel die pandemie aan gemeentes baie uitdagings bied, sê dr. Gustav Claassen, hoofsekretaris van die kerk se moderamen.

“Natuurlik is dit nie die ideale situasie nie. Dit is in die DNS van enige Christelike kerk om bymekaar te kom – van die vroegste tye af lees ons dit so in Johannes,” sê Claassen.

Volgens hom vaar die NG gemeentes wel goed met aanlyn dienste en kon die meeste gemeentes daarin slaag om die wa finansieel deur die drif te trek.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se deputate-owerheid stem nie saam dat “burgerlike ongehoorsaamheid” gepleeg word in die vorm van hofsake nie.

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die kerk se deputate-owerheid, sê dit is nou ’n te kritieke stadium en kerke moet eerder saam met die regering werk.

Dié kerk het wel Maandag ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor gerig om te vra dat kerke eerder gesien word as ’n noodsaaklike diens en dat die verbod daarom opgehef moet word.

“Eredienste hoef nie terug te staan vir ekonomiese kwessies nie. Dit is ’n noodsaaklike diens vir ons mense se geestestoestand, veral in hierdie tyd.”

Hy sê dit is belangrik om te verstaan dat die kerke nie in ’n staat van vervolging of selektiewe onderdrukking verkeer nie.

Die GKSA vra daarom dat kerke wat buite brandpunt-gebiede val, toegelaat word om eredienste te hou.

“En daarvoor moet ons minder sentraliseer en eerder desentraliseer na plaaslike owerhede en munisipaliteite toe wat hul gebiede ken. Omstandighede verskil, kerke se aanbieding van eredienste verskil en die golf se sterkte verskil. Daarom kan daar op plekke eredienste gehou word waar dit tog met veiligheid kan geskied,” sê Aucamp.

Meer oor:  Hofaansoek  |  Kerke  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.