Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
SUT-student byna toegesluit toe hy vloek in hof

Ondersteuners van betogers wat Maandag ’n chaos op die Bloemfontein-kampus van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) veroorsaak het, is behoorlik in die plaaslike landdroshof geroskam nadat hulle amok in die hof gemaak het.

Een van die studente is byna toegesluit nadat hy ’n hofbeampte gevloek het kort voordat sy ses klasmaats in die hof moes verskyn.

Van links sit Zukile Nbunuka, Lesego Mako, Seun Kgapholo, Thabiso Manaheng, Jacob Mqulo en Anele Dlamini in die beskuldigdebank in die Bloemfonteinse landdroshof. Foto: Mlungisi Louw

“Die hof is nie hier om studente maniere te leer nie,” het landdros Vuyelwa Mahamba Dinsdag gesê.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n kind dink dit is gepas om ongeskik teenoor ander te wees.”

Sy het die jong man meegedeel dat sy nie ’n voorbeeld van hom wil maak nie, maar hom summier aan minagting van die hof skuldig sal bevind as sy veragtelike gedrag voortduur.

’n Rukkie later moes sy weer mense in die galery berispe voordat sy die studente op streng borgtogvoorwaardes vrygelaat het.

Die studente, Anele Dlamini (19), Jacob Mqulo (22), Thabiso Manaheng (20), Seun Kgapholo (28), Lesego Mako (24) en Zukile Nbunuka (22), staan tereg op ’n aanklag dat hulle ’n interdik oortree het wat hulle verbied het om ontwrigtend op die kampus op te tree.

Honderde betogers het Maandag eksamenlokale ontwrig omdat hulle glo ontevrede is dat dié kampus se SR-verkiesing nog nie plaasgevind het nie.

Die ses is in hegtenis geneem toe betogers polisie- en veiligheidsbeamptes met klippe en bakstene bestook het.

Mahamba het hulle gewaarsku dat as hulle nie die voorwaardes van hul borgtog nakom nie, sal hulle weer aangekla word.

Sy het gesê as hulle weer aan ’n onwettige protesaksie deelneem of die eksamen ontwrig, sal hulle agter tralies bly totdat dié verhoor afgehandel is.

Mahamba het die studente op borgtog van R500 elk vrygelaat. Hul verhoor is vir verdere ondersoek tot volgende maand uitgestel.

Johan de Vries verskyn vir die staat. Bertus Jacobs van Jacobs Fourie-prokureurs tree vir die studente op.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vloek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.