Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Suzman-stigting ook hof toe oor Zuma se parool

Arthur Fraser, nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, se “onwettige” besluit om oudpres. Jacob Zuma op mediese parool vry te laat, “ondermyn” én trek ’n streep deur die grootste deel van die konstitusionele hof se bevel teen dié oudstaatshoof.

So sê Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting (HSS), in sy beëdigde verklaring in die dringende hofaansoek wat die stigting Dinsdag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het teen Zuma se mediese parool.

Oudpres. Jacob Zuma Foto: WitnessMedia

Die stigting wil met dié aansoek die hof versoek om Fraser te beveel om alle inligting oor én redes vir sy besluit om die parool toe te ken, aan die stigting te verskaf. Dit is vir ’n latere hofaansoek om die mediese parool te laat hersien en tersyde te stel.

Dié hofaansoek is een van verskeie wat teen Zuma se parool by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is óf beplan word.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, het Dinsdag bevestig sy organisasie is ook besig

om sy eie dringende hofaansoek daarteen te finaliseer.

Vroeër is berig die DA het ook reeds ’n hofaansoek ingedien om die paroolbesluit te laat hersien en tersyde te stel.

Intussen het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Dinsdag gesê Zuma word steeds in die hospitaal behandel, berig Raymond Willemse.

Bethuel Thusini, Zuma se prokureur, het in ’n beëdigde verklaring, wat Donderdag by die hooggeregshof in Pietermaritzburg in sy hangende wapenskandaal-korrupsiesaak ingedien is, gesê Zuma is sedert 5 September op mediese parool weens sy “verslegtende” gesondheid. “Mnr. Zuma bly in die hospitaal totdat sy dokters dit hopelik medies gerade ag om hom te ontslaan,” lui die verklaring.

Arthur Fraser Foto: Jaco Marais

Antonie het verder in sy beëdigde verklaring aangevoer dat die HSS ’n eie- én openbare belang in die saak het omdat hy deel was van die konstitusionele hofverrigtinge oor Zuma se weiering om voor die Zondo-kommissie te verskyn, Zuma is aan minagting van dié hof se bevel skuldig bevind en tot 15 maande tronkstraf gevonnis.

Hy sê dit lyk of Fraser “se besluit dié konstitusionele hofbevel ondermyn”.

Antonie meen Fraser kon hul dringende hofaansoek verhoed het omdat die stigting vroeër twee keer prokureursbriewe aan hom geskryf het om te vra dat hy die rekord en redes van sy paroolbesluit teen 13 September aan hulle moet verskaf. “Ongelukkig het die nasionale kommissaris nie die moeite gedoen om op enige van die briewe te reageer nie.”

Volgens Antonie trek Fraser se besluit “ ’n streep deur die grootste deel van die konstitusionele hofuitspraak teen Zuma.

“Mnr. Zuma was vir net meer as ’n tiende van sy vonnis in die tronk. Om verdere sout in die regbank se diep wonde te vryf, het die nasionale kommissaris se dekreet ook die mediese deskundiges gesystap.

“Dit is nie die eerste keer dat ’n ‘openbare figuur’ met aansienlike openbare invloed voordeel put uit ’n blitsvinnige paroolbesluit onder twyfelagtige omstandighede nie.”

Antonie verwys dan na Shabir Shaik, Zuma se gewese finansiële raadgewer, wat in 2009 ook op mediese parool vrygelaat is omdat hy na bewering ook “terminaal siek” was. Shaik “leef tot vandag nog”.

“Die wettigheid van Fraser se besluit om mediese parool aan mnr. Zuma toe te staan, is begroet met dieselfde verontwaardiging as die destydse soortgelyke besluit rondom Shaik.

“Die redelike begrip en werklike waarneming is dat Fraser se besluit onwettig is. Dit is in belang van geregtigheid dat die wettigheid daarvan so gou moontlik getoets word.”

Antonie meen Fraser het sy besluit ook “doelbewus” in geheimhouding gehul én versuim om “wesentlike” redes of stawende bewyse daarvoor te verskaf.

Intussen ondersteun die Defend our Democracy-veldtog in ’n verklaring ook die HSS se versoek dat alle inligting rondom Fraser se paroolbesluit bekend gemaak word “omdat die gebrek aan deursigtigheid daaroor kommerwekkend is”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.