Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Swaard van gelykheidshof oor Etzebeth se kop

Eben Etzebeth kan ’n klag van haatspraak in die gelykheidshof in die gesig staar sou dié hof later besluit daar is meriete in die klag teen die Springbok-slot.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het besluit om die beweerde klag van rassisme wat vroeër teen Etzebeth by die kommissie ingedien is, na die gelykheidshof te verwys.

Eben Etzebet. Foto: Gallo Images

Die MRK het Vrydag dié besluit aan Sammy Claassen, een van die klaers, Vanessa Doble, hoof van regs- en voldoeningsaangeleenthede, en Khaya Mayedwa, senior bestuurder van regerings- en belanghebbende verhoudinge by die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru), in ’n vergadering by sy kantoor in Kaapstad oorgedra.

Etzebeth, wat die klagte ten sterkste ontken, is deel van die Springbokspan wat Saterdag teen Nieu-Seeland in die Wêreldbekertoernooi in Japan speel.

Die klag spruit uit ’n voorval verlede maand waarin beweer word dat Etzebeth en ’n groep mense wat saam met hom was twee mans aangerand en na bewering rassistiese aanmerkings teenoor hulle gemaak het.

Tammy Carter, MRK-regsbeampte, het Vrydag gesê Etzebeth sal heel waarskynlik van haatspraak aangekla word “omdat die slagoffers beweer dat hy hulle h**n**s en k*****s genoem het”.

Volgens haar sal die MRK teen volgende week ook besluit of sy kantoor in Kaapstad of die hoëprofielafdeling in Johannesburg die kwessie verder sal hanteer.

Die gelykheidshof by die hooggeregshof in Kaapstad het egter jurisdiksie daaroor omdat die voorval in die Wes-Kaap gebeur het.

Op ’n vraag oor hoe die gelykheidshofproses sal werk, het Carter gesê die gelykheidswet vereis dat spesifieke dokumente nou voltooi moet word en by die klerk van die gelykheidshof ingedien word.

“Die klerk sal die dokumente dan (binne tien werksdae) aan die respondente (Etzebeth) verskaf. Die respondente sal dan (20 werksdae hê) om op die beweringe te reageer.

“Ná die gelykheidshof die reaksies ontvang het, sal al die dokumente (binne 20 dae) aan die gelykheidsregter voorgelê word wat finaal sal besluit of die kwessie verhoor sal word of nie,” het Carter gesê.

Claassen het Vrydag gesê hy is tevrede met die jongste verwikkelinge. “Dit wys daar is vordering. Die swart gemeenskap van Langebaan soek geregtigheid en dat die aangeleentheid bespoedig word.

“Dit omdat daar slagoffers is wat getraumatiseerd is, wat pyn verduur en wat mediese behandeling ondergaan. Daar is ook baie onsekerheid oor of die slagoffers geregtigheid gaan kry.”

Volgens hom het hy in Vrydag se vergadering ook vir Saru gevra om dringend ’n interne ondersoek na die aangeleentheid te begin. “So ’n proses sal gemoedsrus aan swart Suid-Afrikaners gee dat Saru ernstig is oor rassisme.”

Doble en Mayedwa het gesê hulle het nie ’n mandaat om namens Saru met die media daaroor te praat nie.

Volgens Carter het hulle egter in die vergadering aangedui dat hulle Claassen se kommer en versoek aan Saru sal oordra en volgende week terugvoer sal gee daaroor.

Sy het gesê die nasionale vervolgingsgesag sal ook teen volgende week aandui of enigiemand weens die voorval vervolg sal word of nie.

Vorige verwysings na die gelykheidshof

Die MRK het vroeër ook ’n klag van rassisme teen Adam Catzavelos na die gelykheidshof verwys nadat dié in 2018 in Griekeland rassistiese uitlatings met die k-woord gemaak het. Hy is met R150 000 daarvoor beboet.

Dit is ook ’n gelykheidshof wat wyle Penny Sparrow, die eiendomsagent van KwaZulu-Natal, wat in 2016 swart mense ape op Facebook genoem het, beveel het om ook ’n boete van R150 000 te betaal.

Wat is die gelykheidshof?

* Die gelykheidshof is ’n gespesialiseerde hof wat in plek gestel is om sake oor onbillike diskriminasie, haatspraak en teistering aan te hoor.

* Die gelykheidshof sit in hooggeregshowe en landdroshowe.

* Ingevolge die gelykheidswet is dit die MRK en Kommissie vir Gendergelykheid se mandate om klaers by te staan om hul klagte na die gelykheidshof te neem.

* Die klaer hoef nie regsverteenwoordiging in die gelykheidshof te hê nie.

* Enige persoon kan ’n klag by die gelykheidshof indien teen ’n persoon of organisasie, al is hy of sy nie direk betrokke by wat gebeur het nie. – Bron: Departement van justisie en korrektiewe dienste

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.