SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Swart boer vat staat hof toe oor boerdery-grond

’n Swart boer van Limpopo vra ’n hofbevel wat die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming verplig om die staatsgrond waarop hy en sy familie die afgelope 29 jaar suksesvol boer, aan hom te verkoop.

Thoko Didiza, minister van dié departement, het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria David Rakgase (79) se aansoek om die bevel te bekom, teengestaan.

Die landbougemeenskap hou die saak fyn dop omdat die uitspraak, wat voorbehou is, rigtinggewend kan wees oor hoe die staat in die toekoms grondhervorming aanpak.

’n Uitspraak ten gunste van Rakgase sal ’n regsraamwerk skep wat boere in ’n soortgelyke situasie kan help om op eienaarskap van grond aanspraak te maak, sê Annette Steyn, DA-woordvoerder oor grondhervorming, wat Rakgase in die saak ondersteun.

Hoewel die departement sedert 2002 herhaaldelik onderneem het om die staatsgrond naby Northam aan Rakgase te verkoop, is daar in 2010 onverklaarbaar besluit om eerder die huurkontrak met 30 jaar te verleng.

Mmofa Rakgase en Annette Steyn, DA-woordvoerder oor grondhervorming, Dinsdag buite die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

Volgens die Rakgase-familie is daar egter geen waarborg dat die huurkontrak ná Rakgase se dood aan sy naasbestaandes oorgedra sal word nie.

Weens die onsekerheid wil die familie nie verder in die plaas belê nie. Omdat die staat die grond besit, sukkel die familie boonop om grondbesetters van ’n gedeelte van die plaas te verwyder.

Rakgase se regsverteenwoordiger, adv. Geoff Budlender SC, se kernargument aan die hof was dat die destydse besluit om nie die plaas aan Rakgase te verkoop nie, “irrasioneel, bisar en onverklaarbaar” is.

“Tot vandag toe het die departement nog geen geldige redes verskaf oor hoekom die aansoek afgekeur is nie. Die staat wil in der waarheid hê dat die grond nooit aan Rakgase mag behoort nie,” het Budlender gesê.

In 2003 het die departement ’n eenmalige R400 000-herverdelingstoelaag goedgekeur om Rakgase in staat te stel om die plaas teen R1,2 miljoen te koop. Rakgase sou self vir die uitstaande bedrag moes opdok.

Hy is daarna glo herhaaldelik verseker dat die grond aan hom oorgedra sou word.

In 2010 het die adjunk-direkteur-generaal van grond- en eiendomshervorming egter Rakgase se aansoek afgekeur. Die adjunk-direkteur-generaal het toe eerder besluit om die grond vir nog 30 jaar aan Rakgase, wat nou 79 jaar oud is, te verhuur.

Adv. Sunday Ogunronbi, vir die minister, het gesukkel om aan regter Norman Davis te verduidelik hoekom die destydse besluit afgekeur is.

Ogunronbi het gereeld deur sy betooghoofde geblaai en Davis na uiteenlopende paragrawe verwys.

Volgens Davis het die verwysings egter geen lig op die kwessie gewerp nie.

“Die aansoeker (Rakgase) voer aan die regering het oor ’n lang tydperk gesê hy gaan A doen, maar het toe besluit om eerder B te doen. Ek vermoed die redes vir die besluit is afwesig in die dokumente,” het Davis gesê.

Didiza het deur haar regspan daarop gewys dat beleid wat in 2013 in werking gestel is, dit stel dat swart boerdery-huishoudings eers die grond vir 50 jaar moet huur voordat dit aan hulle oorgedra kan word.

Budlender sê dié argument is nie van toepassing nie aangesien die beleid eers drie jaar nadat Rakgase se aansoek afgekeur is, in werking gestel is.

Rakgase het reeds met sy eie geld toerusting aangeskaf, paaie en stoorkamers gebou, boorgate gesink, ’n besproeiingstelsel en ’n wildheining opgerig.

Twee van ons familielede het landbou gaan swot omdat hulle op die grond wil boer, maar nou is dit nie meer ’n gegewe nie. Ek het self my PhD-studies in landbou gestaak en eerder rampbestuur gaan studeer omdat ons toekoms op die grond onseker is.

Sy seun, Mmofa, het ná afloop van die verrigtinge gesê daar is geen waarborg dat die staat die grond aan die Rakgase-familie sal uitverhuur nadat sy bejaarde pa gesterf het nie.

“Twee van ons familielede het landbou gaan swot omdat hulle op die grond wil boer, maar nou is dit nie meer ’n gegewe nie. Ek het self my PhD-studies in landbou gestaak en eerder rampbestuur gaan studeer omdat ons toekoms op die grond onseker is,” sê Mmofa.

Steyn van die DA meen mense uit sekere geledere het dikwels die verkeerde persepsie dat swart mense nie kan boer nie. Volgens haar is daar honderde boere, nes Rakgase, wat nie titelaktes van die regering kry nie.

“Dit is die regering wat baie keer dié boere in die steek laat. As boere nie hul eie grond besit nie, kan hulle nie geld by die banke leen om hul boerdery te ontwikkel nie. Hulle wil ook nie daarin belê nie, want die staat besit die grond,” sê sy.

Meer oor:  Thoko Didiza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.