Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Swart boere se saak versterk ná hof se uitspraak’
David Rakgase, Annette Steyn en Mmofa Rakgase praat Dinsdag buite die hooggeregshof in Pretoria oor die uitspraak. Die hof het in Rakgase se guns beslis. Foto: Christiaan du Plessis

Deur suksesvolle swart boere nie toe te laat om grond van die regering te koop nie, is daar die afgelope tien jaar met grondhervorming agteruitgeboer.

Dit was die reaksie Woensdag van dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van die landbou-organisasie Saai, in reaksie op die hofuitspraak dat die regering ’n plaas aan ’n boer moet verkoop.

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag beslis die regering moet binne 30 dae die plaas Nooitgedacht, buite Northam, Limpopo, aan David Rakgase (78) verkoop. Rakgase sukkel reeds die afgelope dekade om die plaas te koop.

De Jager sê daar is duisende ander swart boere wat sukkel om titelaktes van die regering te kry.

Volgens die hof is Rakgase se geval ’n voorbeeld van hoe ondoeltreffend bestaande beleide oor grondhervorming is.

Landbou-organisasies het die uitspraak verwelkom en gesê dit versterk honderde, moontlik duisende ander swart boere – wat in ’n soortgelyke situasie is – se aanspraak om titelaktes te bekom. Tot nou huur hulle bloot die grond van die staat.

Regter Norman Davis het in sy uitspraak gesê daar is sedert 1994 ’n gesloer om grondhervorming toe te pas ondanks die feit dat dit ’n grondwetlike noodsaaklikheid is.

Rakgase het aan al die vereistes voldoen om eienaarskap van die plaas te bekom.

“Die weiering om ’n geleentheid soos dié met albei hande aan te gryp, is ’n oortreding van ’n grondwetlike plig,” het Davis gesê.

Sedert 2003 het die destydse departement van landbou herhaaldelik ondernemings gemaak om die plaas aan Rakgase oor te dra, maar het later besluit om dit nie te verkoop nie. Geen redes is vir die besluit gegee nie.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, beskryf die hofuitspraak as ’n deurbraak omdat dit swart boere se aanspraak op eienaarskap sal versterk.

“Daar is boere wat al jare en jare op titelaktes wag al kan hulle die grond van die regering koop. Daar is ’n groot gesloer met grondhervorming,” sê hy.

David Rakgase se seun Mmofa en Annette Steyn, DA-woordvoerder oor grondhervorming, bestudeer die uitspraak by die hof. Hulle het die regter se uitspraak misgeloop. Foto: Christiaan du Plessis

Annelize Crosby, Agri SA se beleidshoof van grondsake, sê die feit dat baie swart boere nie die grond besit waarop hulle boer nie, belemmer vooruitgang.

“Banke is huiwerig om boere te finansier as hulle nie die grond besit nie. Hoewel die regering se beleid voorsiening maak dat grond aan boere oorgedra word, gebeur dit nie in die praktyk nie,” sê sy.

Verder moet die regering meer belê in voorligtingsdienste om te verseker dat ontwikkelende boere toegerus is om ’n sukses van hul boerdery te maak, sê Crosby.

Sy sê die uitspraak gaan nie sommer die regering se planne raak om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding in sekere gevalle moontlik te maak nie.

De Jager verskil egter en sê die hof se uitspraak bevestig die integriteit van private eiendomsreg. “Dit gaan dit so ’n klein bietjie moeiliker vir die regering maak om grondonteiening sonder vergoeding moreel te regverdig,” sê hy.

Rakgase het Dinsdag ná die uitspraak gesê hy het groot planne om sy boerdery uit te brei. Drie van sy seuns het landbou gestudeer en sal nou hul pa op die plaas help.

Omdat Rakgase nie eienaarskap van die grond gehad het nie, wou hy nie te veel uit sy eie sak in die plaas belê nie. Hy het ook gesukkel om grondbesetters van die plaas af te kry.

“Ek het jare gesukkel met die regering, maar ek is dankbaar, want nou kan ons voluit begin boer,” sê Rakgase.

*Saai sal op 11 September in Tzaneen, Limpopo, ’n byeenkoms vir ontwikkelende boere aanbied waar dié boere gevra het dat die kwessie van titelaktes op die agenda geplaas word.

Meer oor:  Theo De Jager  |  Regering  |  Plase  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.