Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Swart boere staan sáám teen plaasaanvalle
Ivan Shabangu, Mirriam Mulungu, Thokozani Nxumalo, Shandre Scholtz, Johannes Mokoena van Cosatu, en Dawie Prollius staan saam om plaasaanvalle te veroordeel by die landdroshof in Bronkhorstspruit. Foto: Deaan Vivier

Swart boere van Bronkhorstspruit het Donderdag buite die landdroshof hul stem laat hoor oor misdaad op plase.

“As swart boere veroordeel ons ook plaasaanvalle, want hierdie moordenaars maak alle boere, ongeag ras, dood,” sê Mirriam Mulungo wat ’n gemengde boerdery het.

Sy was deel van ’n groepie mense wat die hofsaak volg teen een van die verdagtes wat na bewering betrokke was by die aanval op Waldi (64) en Cynthia (53) van Zyl van die Spitskop-distrik. Die egpaar is op 27 September op hul plaas deur ses verdagtes aangeval en wreed gemartel.

Mulungo sê boere het gemeenskaplike probleme.

“Ons wil ook hê diefstal op ons grond moet stop. Ons monitor juis wat met hierdie saak gebeur, want ons het dieselfde probleme as wit boere.

“Ons vra ook beter polisiëring. Dinge raak erger en daar is baie vroueboere soos ek,” sê sy.

Ivan Shabangu, ook ’n kleinboer, het bygevoeg dat alle boere én die regering sal moet saamstaan teen aanvalle.

“Hulle moet weer die eenheid vir landelike beveiliging terugbring. En hul kantore moenie in die dorp wees nie, maar naby die plase, sodat hulle weet waar ’n plaas is wat aangeval word, en vinniger daar kan kom,” sê hy.

Nelson Phillip Guambi, ’n Mosambieker, in die beskuldigdebank. Hy word aangekla van die besit van ’n vermoedelik gesteelde selfoon, dat hy onwettig in die land is en regsverydeling. Foto: Hanti Otto

Johannes Mokoena, ondervoorsitter van Cosatu se Tshwane-streek, het dit beaam.

“Ons as Cosatu sal bewerings van probleme tussen werker en werkgewer, en afsetting van grond op ’n ander manier hanteer.

“Dit is iets anders as plaasaanvalle. Plaasaanvalle is nie ’n rasseprobleem nie. Ons kan nie bekostig om boere te verloor nie. Boere verskaf kos, hulle is belangrik vir elkeen in die land. Die regering moet betrokke raak: met die boere, die grondeienaars, die werkers, sodat daar ’n verenigde front kan wees.

“Ons as Cosatu het ’n plan wat ons kan voorstel, byvoorbeeld beheerde toegang na sekere ‘blokke’ waar plase geleë is, soos ’n valboom. Selfoonnetwerke moet iets doen aan die probleem van swak seine in sekere landelike gebiede as die boere hulp moet ontbied. En radio’s vir die kere wat die seine steeds probleme gee,” is Mokoena se voorstel.

Ander omstanders het gesê hul is steeds ontsteld oor wat met Waldi en Cynthia gebeur het.

Die polisie het gesigsamestellings versprei van vyf verdagtes wat gesoek word in verband met die aanval en marteling van Waldi en Cynthia van Zyl. Foto: SAPD

Isabel Venter het vroeër berig dat die egpaar met ’n hoekslyper en moersleutel wreed aangerand en ook met pype geslaan is.

Waldi was vroeër steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Cynthia het ’n diep kopwond opgedoen.

Sy is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Die aanvallers het hulle gemartel terwyl hulle glo geld geëis het.

‘Onskuldige’ haarkapper

Nelson Phillip Guambi (28), die verdagte wat Donderdag sou verskyn het, word glo verkeerdelik oor dieselfde kam as die aanvallers geskeer het adv. Steve Sekwele, sy regsverteenwoordiger, aan Netwerk24 gesê.

Guambi, ’n Mosambieker, is enkele dae ná die aanval op die Van Zyls in hegtenis geneem.

Volgens Sekwele is die voorlopige aanklagte teen hom die besit van ’n vermoedelik gesteelde selfoon, dat hy onwettig in die land is en regsverydeling.

Sekwele sê sy kliënt het wel ’n verduideliking vir die selfoon wat in sy besit gevind is.

Waldi (64) en Cynthia van Zyl (53) is op 27 September wreed op hul plaas aangeval en gemartel.

“Hy besit ’n haarsalon in die Zithobeni-omgewing (’n township net noord van Bronkhorstspruit). ’n Man genaamd Alex, wat Guambi van die omgewing ken wou ’n selfoon laai en sou later daarvoor terugkom.”

Sekwele sê toe die polisie daar aankom, op soek na die selfoon, het Guambi en ’n seun by die salon hulle vergesel na “Alex” se blyplek.

“Op pad het die kind vir Alex gesien, hom uitgewys, en die polisie het uitgespring. Die man het egter weggehardloop. My kliënt is op daardie drie aanklagte in hegtenis geneem,” het die advokaat gesê.

“Hierdie aanklagte is nie aanklagte wat verband hou met ’n plaasaanval nie. Dit is vir die besit van ’n vermoedelik gesteelde selfoon, en die wet vereis dat ’n beskuldigde ’n redelike moontlike verduideliking moet kan gee oor hoekom so ’n eiendom in sy besit is,” sê Sekwele.

Guambi se aansoek om borgtog is tot volgende week uitgestel omdat daar nie ’n tolk beskikbaar was nie.

• Van die verdagtes in die saak is nog soek. Enigiemand met inligting kan die polisie by 012 932 9200 bel of sers. Mahlangu, ondersoekbeampte, by 076 424 7079.

Polisie en lede van die publiek pak die hofsaal so vol as wat hul kan met die Covid-19-regulasies tydens Nelson Phillip Guambi se hofverskyning. Foto: Hanti Otto

Meer oor:  Bronkhorstspruit  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.