Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sy verdien nie tronkstraf, meen polisievrou

Die polisievrou wat aan regsverydeling skuldig bevind is weens haar geheime liefdesverhouding met ’n berugte bendelid, het Woensdag lang trane gehuil toe sy die hof gesmeek het om haar nie tronkstraf te gee nie.

Alicia Beeming word op 14 Maart gevonnis. Foto: Facebook

Alicia Beeming is in Augustus aan regsverydeling skuldig bevind omdat sy versuim het om Hans Jordaan, ’n “generaal” van die Upstand Dogs-bende, in hegtenis te neem en om die polisie in kennis te stel waar hy is.

Beeming het erken dat sy tussen April 2014 en Maart 2015 as lid van die bende-taakspan deeglik bewus was van Jordaan se bewegings toe hy onder meer vir ’n saak van poging tot moord gesoek is.

Beeming se pligte was juis om bendeverwante sake te ondersoek.

Sy was bewus van watter ondersoeke aan die gang was, die besonderhede van staatsgetuies, en watter strategiese metodes toegepas gaan word om bendeverwante aktiwiteite te bekamp.

Sy was ook op talle vergaderings waar lede van die eenheid hul teikens (onder andere Jordaan) bespreek het, en hoe hulle dié teikens gaan aankeer.

Toe die voorvonnisverrigtinge Woensdag in die landdroshof in Port Elizabeth hervat, het Beeming haarself verteenwoordig.

Dit kom nadat haar voormalige regsverteenwoordiger, Hennie Bence, homself in ’n vorige hofverskyning aan die saak onttrek het. Beeming kwalifiseer nie vir regshulp nie.

Sy meen sy moenie tronkstraf kry nie, want sy moet na haar kinders omsien.

Sy het ter versagting van haar vonnis aan landdros Onke Myataza gesê sy het ’n fout begaan, maar sy verdien nie die tronk nie.

Sy het ook gesê sy het self besluit om skuld te beken, en het sodoende nie die hof se tyd gemors nie.

Volgens Beeming word haar drie kinders geboelie by die skool weens die berigte oor haar hofsaak wat in die media verskyn.

Sy meen sy moenie tronkstraf kry nie, want sy moet na haar kinders omsien.

Beeming het getuig dat sy geen finansiële bystand van die pa’s van haar drie kinders vir hulle ontvang nie, maar Rafiq Ahmed, die staatsaanklaer, het deur middel van finansiële rekords bewys albei pa’s onderhou wel hul kinders.

Ahmed het die hof versoek om Beeming direkte tronkstraf van tussen drie en vyf jaar op te lê.

Myataza het die saak tot 14 Maart uitgestel vir vonnisoplegging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.