Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Sy wou moor nadat ek nee sê vir seks’

Die 30-jarige vrou wat aangekla word van die huurmoord op haar man, ’n hoteleienaar van Pofadder, het ’n “geneigdheid tot geweld” en het al voorheen gedreig om ’n man “uit te haal” nadat hy haar toenadering verwerp en by haar man daaroor gaan kla het.

Dit, sê die staatsaanklaer, is een van die hoofredes waarom Suretha Brits, wat teregstaan weens die moord op haar man, Leon, in Oktober verlede jaar, nie borgtog moet kry nie.

Die 41-jarige Leon is met ’n hondeketting verwurg en in die swembad van hul huis in die Noord-Kaapse dorpie gegooi.

Suretha Brits (30) het na bewering haar man, Leon (41), op Pofadder laat vermoor.

Die staatsaanklaer, adv. Hannes Cloete, het ook aangevoer Suretha het probeer om met ’n staatsgetuie in te meng en vir haar voor te sê wat sy vir die polisie moet sê.

Brits se familielede en ondersteuners het die hofverrigtinge Donderdag en Vrydag bygewoon en te midde van ’n kouefront wat die binneland teister vir haar klere en komberse aangedra.

Die staat voer verder aan daar was huweliksprobleme tussen haar en Leon en dat sy minstens twee langdurige buite-egtelike seksuele verhoudings gehad het. Een van haar minnaars beweer ook sy het hom gevra of hy Leon sou vermoor, waarna sy ’n familievriend genader het. Sy ontken die bewerings.

Brits, wat deur haar regsverteenwoordiger beskryf is as ’n “angstige en emosionele weduwee wat nog die trauma van haar man se dood moet verwerk”, het haar trane voortdurend in die beskuldigdebank afgevee.

Suretha Brits klim Donderdag uit die vangwa met haar aankoms by die hof in Pofadder. Foto: Charné Kemp
Suretha Brits versteek haar gesig agter 'n kappie met haar aankoms Vrydagoggend by die hof in Upington. Foto: Charné Kemp
Suretha Brits laai warm klere, 'n kombers en 'n tas in die vangwa buite die hof in Pofadder voordat die polisie haar na die gevangenis in Upington neem. Foto: Charné Kemp

Sy is in Maart vanjaar in haar huis in Marchand, net buite Kakamas, in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en drie aanklagte van regsverydeling.

Die polisie het met hul deursoeking van die huis R650 000 kontant en euro-geldnote in haar kluise en in ’n bagasiebak van ’n motor gevind. Die Brits-egpaar het ’n huis gehad in Kakamas, waar hul drie kinders skoolgaan. In Pofadder besit hulle nog ’n woonhuis, twee hotelle, ’n vervoermaatskappy, etlike huurhuise, ’n drankwinkel en ’n plaas.

Volgens vele Pofadder-inwoners was hulle ’n gesiene egpaar wat op die oog af gelukkig was. Terwyl sy die bestuur en administrasie van die hotelle behartig het, het hy nuwe sakegeleenthede benut, mense in nood gehelp en ook nie geskroom om self sy hande vuil te maak nie.

Cloete het in sy kruisondervraging aangevoer benewens die beweerde buite-egtelike verhoudings het sy glo nóg ’n man probeer verlei. Toe dié haar egter verwerp en by Leon verkla, het sy gedreig om iemand te kry om “hom uit te haal”.

Denton Nienaber, een van Brits se minnaars, beweer sy het in September 2020 gevra of hy haar man sal “uithaal”. Sy was beledigend teenoor Leon en het gesê skei is buite die kwessie, want “hy sou haar nie uitlos” nie. Later het Brits glo gesê ’n familievriend, ene “Jacqie” sal die daad pleeg, “want hy sal enigiets vir my doen”.

Dit is glo ’n verwysing na Jacques van Vuuren (37), wat reeds 20 jaar gevangenisstraf uitdien nadat hy in Maart vanjaar beken het hy was die huurmoordenaar wat Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) gewerf het om Leon te vermoor. Williams en Bareki sal op 17 Mei vir die eerste keer saam met Brits verskyn, wanneer landdros Fiona Hess na verwagting haar uitspraak in Brits se borgtogaansoek lewer.

Van Vuuren sal ’n staatsgetuie wees in die verhoor, wat moontlik in die derde kwartaal in Upington sal begin.

Hy voer aan Brits is ’n jare lange vriendin wat hom genader het om haar man vir R400 000 te vermoor omdat hy haar aangerand en verhoudings met ander vroue gehad het. Brits het aanvanklik glo R70 000 in kontant betaal en in ’n pakkie versteek wat Van Vuuren by haar ma, wat onbewus van die inhoud was, in Kakamas gaan haal het.

Lize-Marie Fouché, ’n vriendin, moes voorgee die pakkie was vir haar bestem. Sy moes glo ook aan die polisie sê die Brits-huwelik was gelukkig.

Dit is glo vir Fouché wat Suretha, wat geweet het sy mag nie met staatsgetuies praat nie, by twee geleenthede sou intimideer.

Die dag van die voorval het Van Vuuren Williams en Bareki van Kathu na Pofadder geneem en by Leon se huis afgelaai. Die staat voer aan Brits het ’n aktiewe rol in die beplanning van die moord gespeel omdat sy Leon per telefoon na hul huis gelok het, waar die moordenaars hom ingewag het. Vuurwapens, geld en Krugerrande is uit die kluis gesteel. Daarna het Brits van Kakamas na Pofadder gery, waar sy die drie mans langs die pad ontmoet en haar tweede selfoon en Leon se selfoon vernietig is. Sy het aangery en die lyk in die swembad ontdek.

Suretha was opsigtelik aangedaan toe Cloete tydens kruisondervraging verwys het na haar kinders, wat nou deur familie versorg word.

“Jy het jou kinders in die situasie geplaas. Jy was selfs bereid dat die moord in jou en jou kinders se teenwoordigheid gepleeg word sodat niemand jou verdink nie, maar Van Vuuren het jou afgeraai,” het hy aan haar gesê.

“Nee, ek sal nooit so iets doen nie,” het sy geantwoord.

Volgens Cloete het die staat ’n baie sterk saak, wat die verdediging nooit eens gepoog het om aan te val nie. Kontrakmoorde word in ’n baie ernstige lig beskou en daar is bewerings dat sy ook ’n ander man wou laat vermoor, het Cloete gesê.

Selfoon-spoor wys dit was só

Hy sê Van Vuuren is ’n geloofwaardige getuie omdat sy weergawe in die ondersoek gestaaf is.

Suretha ontken dat sy Van Vuuren goed geken het, maar haar selfooninligting dui daarop sy het op haar gebruiklike selfoonnommer met hom gepraat en vir hom boodskappe gestuur, het Cloete gesê. Suretha het glo ’n tweede selfoon gebruik in die beplanning van die moord.

Die ondersoek toon die twee selfone het voortdurend “saam” beweeg. Een van die ander ge­tuies het die bestaan van die tweede selfoon erken.

Voorts kon die polisie die beweging van die selfone tot by die plek langs die pad volg waar een van die fone glo vernietig is. Hulle het ook die oproep nagespeur waarmee Leon na die huis gelok is.

Kort ná die moord het Suretha ontevrede hotelpersoneel en Leon se ouer broer, Tokkie Brits, by die moorde probeer betrek. Tokkie sou glo geldprobleme gehad het en is deur Leon onterf. Die polisie se ondersoek het hulle van alle blaam onthef, het Cloete gesê.

Drickus le Roux, namens Suretha, het aangevoer sy is onskuldig totdat sy skuldig bevind word.

Hy het haar as “ ’n hardwerkende en liefdevolle moeder” beskryf. Volgens Le Roux is die staat se saak op hoorsêgetuienis gegrond wat eers in die verhoor bewys moet word, terwyl Suretha “objektiewe, direkte getuienis” in die borgtogaansoek gelewer het.

Haar persoonlike omstandighede is wesenlik en dringend genoeg dat sy op borgtog vrygelaat moet word. Sy moet die ondernemings strategies bestuur sodat sy (en haar personeel) ’n inkomste kan verdien om na haar drie kinders te kan omsien en om haar regskoste te betaal. Eintlik het sy net R70 000 om van te leef omdat die kontant wat die polisie gekry het aan haar man behoort het. Die administratiewe chaos by die meester van die hof het veroorsaak dat ’n eksekuteur nog nie aangestel is om Leon se boedel te beredder nie.

Suretha het onder kruisondervraging toegegee haar drie gesondheidstoestande is nie lewensbedreigend nie, hoewel sy aan ligte depressie ly. Die tronk se omstandighede is nie ideaal om haar siektetoestande op ’n volgehoue grondslag bevredigend te kan bestuur nie.

Sy is nie ’n gevaar vir die samelewing of ’n vlugrisiko nie omdat sy bates en belange in die land het.

Volgens Le Roux het Suretha nie getuies probeer intimideer nie. Sy het die polisie in kennis gestel sy was bloot besorg omdat sy gehoor het een getuie se lewe is in gevaar. Sy het nie direkte kontak met getuies gehad nie.

Meer oor:  Leon Brits  |  Pofadder  |  Klagtes  |  Suretha Brits  |  Man  |  Moord  |  Huurmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.