Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Taalaktivis sê ‘oorlog’ nie verby ná appèl-uitspraak
Cerneels Lourens Foto: Lerato Maduna

“Dis net ’n veldslag wat ek verloor het. Die oorlog is nog nie verby nie.”

Dit was die woorde van Cerneels Lourens, ’n prokureur en taalaktivis, nadat ’n uitspraak van die appèlhof nie in sy guns getel het nie.

Lourens het verlede maand appèl aangeteken in verband met die publisering van wetgewing in al 11 amptelike tale nadat die gelykheidshof in Kaapstad dit in Augustus 2014 van die hand gewys het.

Uitspraak is Donderdag gelewer waarin die appèlhof bevind het dat die publisering van alle wetgewing wat deur die parlement gevoer word in al 11 amptelike tale nie onregverdige diskriminasie is nie – ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.

Lourens het destyds op ’n verklarende bevel aangedring dat die huidige praktyk as onbillike taaldiskriminasie verklaar word.

Hy wil hê dat alle wette in al 11 amptelike tale gepubliseer word en dat al die tale in die howe gebring word vir “makliker en vinniger kommunikasie”.

“Ek is in dié stadium al so uitgeput (weens die talle hofstryde) en ek het nog nie gedink of ek dit na die konstitusionele hof gaan neem nie. Ek moet ook eers my raadgewers nader sodat ons saam kan besluit wat die volgende stap is.”

Hy sê daar is twee opmerkings in die uitspraak wat as “winste” kan tel.

“Al die sowat 65 hoofwette, wat vroeër in Afrikaans gepubliseer is en nou in Engels en in ander tale gewysig is, moet reggestel word.

“En ingevolge die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, wat drie tale voorskryf, welke die departemente dan kies, moet die wette minstens in daardie drie gekose tale gepubliseer word.”

Volgens Lourens het die appèlregters hom ook verkeerd verstaan.

“My stukke wat ek ingedien het en my betoë was in Afrikaans. Ek het wel ’n vertaalde Engelse afskrif elektronies ingedien, maar ek weet nie of dit ooit gebruik is nie, want een van my standpunte is myns insiens misverstaan.”

Hy sê hy is nie te moedeloos oor die uitspraak nie.

“Ons is darem al ’n stap verder as ná die Kaapse uitspraak. Maar dis nou net weer bewys: Engels het gewen.”

Oor wat volgende gaan gebeur, sal hy en sy raadgewers nog besluit.

“Die konstitusionele hof is eintlik die regte hof om hieroor te beslis, want dit is ’n taalkwessie wat die Grondwet raak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.