Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tabak-hofsaak: Regering se antwoord het meer as 500 bladsye

Die regering het laat Dinsdagaand hul antwoord gelewer in die saak wat British American Tobacco SA (Batsa) teen hom maak oor die verbod op die verkoop van tabak en tabakverwante produkte tydens die staat van inperking.

Hy moes teen Maandag geantwoord het, maar het nog ’n dag nodig gehad om dit af te handel.

Die dokument wat per e-pos aan die belanghebbende partye gestuur is, beslaan 547 bladsye.

Dit bevat ’n beëdigde verklaring deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Haar verklaring word ondersteun deur ’n eedsverklaring deur dr. Cassius Lubisi, direkteur-generaal in die presidensie.

Die regering het verder verklarings deur sewe kenners bekom, onder meer van die Nelson R Mandela School of Medicine, Genesis Analytics, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, SA Mediese Navorsingsraad, Social Surveys SA en twee kennerverklarings van die Universiteit van Kaapstad.

Dit is die tweede aanslag in die hof oor die verbod op sigaretverkope.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

’n Volbank regters het die saak wat die Fair Trade Independent Tobacco Association aanhangig gemaak het, verlede week in Pretoria aangehoor. Uitspraak in dié saak word voorbehou.

Batsa het op 1 Junie ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die nasionale Covid-19-bevelsraad en die president.

Batsa en agt ander partye vra vir ’n hofbevel dat die vlak 3-regulasie wat sigaretverkope verbied, ongrondwetlik en ongeldig verklaar en ter syde gestel word. ’n Kostebevel word ook teen Dlamini-Zuma, of haar en enige ander respondente wat dit teenstaan, gevra.

Intussen het die aanvanklike verhoordatum van 22 Junie na 24 Junie verander. Partye het die regter-president van die hooggeregshof, regter John Hlophe, versoek om die saak voor ’n volbank regters te plaas en indien hy die versoek toestaan, sal die saak moontlik eers op 29 en 30 Junie aangehoor word.

Batsa, wat as die grootste vervaardiger van tabakprodukte in die land beskryf word en produkte soos Peter Stuyvesant, Dunhill, Kent en Rothmans vervaardig, het die saak saam met nege ander applikante aanhangig gemaak, waaronder Japan Tobacco International Suid-Afrika, wat Camel verkoop.

Die ander applikante sluit in die verbruikers Melinda Ferguson en Keoagile Molobi, asook die tabakwinkel JJ Cale.

Tabakboere is ook applikante soos verteenwoordig deur die Limpopo Tobacco Processors, die South African Tobacco Transformation Alliance, die Black Tobacco Farmers Association en die Southern African Informal Traders Alliance.

Hou Netwerk24 dop vir meer inligting oor die argumente in die dokument.

Meer oor:  Hof  |  Sigarette  |  Batsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.