Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tabakverbod: Fita dien appèl-aansoek in

Die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) het Vrydag sy aansoek om verlof tot appèl by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Dit kom nadat ’n volbank regters beslis het dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wel geldige redes het vir die tabakverbod.

In die uitspraak is al Fita se argumente verwerp. Die regters, onder leiding van Gauteng se regter-president, regter Dunstan Mlambo, het beslis Fita het nie die konteks waarin die regulasies afgevaardig is, in ag geneem nie. Fita betwis hierdie bevinding en voer aan die appèlhof kan tot ’n ander gevolgtrekking kom.

“Baie mense in Suid-Afrika gaan ongetwyfeld nog aan die virus sterf en daarom het die minister binne haar regte opgetree toe sy die verbod ingestel het,” het die hof beslis.

Die verbod op die verkoop van tabakprodukte geld al vir langer as drie maande en dit het reeds ’n groot finansiële uitwerking op die bedryf gehad.

Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, het Vrydag bevestig hulle het die aansoek om verlof tot appèl ingedien. ’n Datum vir die aanhoor hiervan moet nog bevestig word.

Luidens die aansoek het die hof gefouteer deur nie behoorlik ag te slaan op die mediese navorsing wat Fita ingedien het nie.

Fita sê die hof het ook gefouteer deur ’n kostebevel teen hom te maak omdat die respondente nie daarvoor gevra het nie.

Fita voer onder meer aan die hof het gefouteer:

• In sy toets of die uitvoerende optrede rasioneel was toe die riglyne kragtens die Wet op Rampbestuur toegepas is;

• Deur nie die korrekte vrae te vra of die verbod op die verkoop van tabak en verwante produkte vir ’n gegewe tydperk enige impak sal hê op die bekamping van die virus nie;

• Deur nie te bevind dat daar geen rasionele verband is tussen die verbod en lewens wat gered word nie;

• Deur nie te bevind dat mense ten spyte van die verbod aanhou rook omdat hulle steeds sigarette in die sluikhandel kan bekom nie. Fita stem saam met die hof dat die verbod die sluikhandel in sigarette verhoog het. Dit skep volgens Fita juis ’n groter risiko omdat onwettige produkte wat nie gereguleer word nie, verkoop en gebruik word. Hierdie produkte kan skadelike bestanddele bevat wat die risiko vir gesondheidsprobleme verhoog, wat gevolglik meer druk op die gesondheidstelsel kan plaas;

• Deur te bevind dat tabak en verwante produkte nie noodsaaklike produkte is wat mense nodig het om te funksioneer nie. Die hof wou ook nie mediese bewyse van die applikante in ag neem nie.

Meer oor:  Fita  |  Koronavirus  |  Tabak-Verbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.