Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tabakverbod: Minister stel haar saak
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: Argief

Die verbod op die verkoop van tabak en tabakverwante produkte is nie vir ewig nie. En die regering het ingevolge die Grondwet ’n plig om lewens te beskerm en sodoende ook burgers se gesondheid.

Die verbod op die verkoop van tabakprodukte sal ook die druk op die gesondheidstelsel in die land verlig.

Dít is van die belangrike aspekte wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, uitlig in haar antwoord in die saak wat British American Tobacco SA (Batsa) teen haar, die president en die nasionale bevelsraad gemaak het.

Dlamini-Zuma het Dinsdagaand laat haar antwoord by die hof ingedien.

Dit volg nadat Batsa op 1 Junie ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het waarin hy en agt ander partye vra dat die vlak 3-regulasie wat sigaretverkope verbied, ongrondwetlik en ongeldig verklaar en ter syde gestel word.

’n Kostebevel word ook gevra teen Dlamini-Zuma, of haar en enige ander respondente wat dit teenstaan.

Volgens Batsa gaan miljoene rande verlore gaan. Die mark vir onwettige sigarette word vergroot en talle mense in die bedryf kan nie ’n inkomste verdien nie. Verder is daar mense wat emosionele skade ly en verhoogde vlakke van stres en irritasie ervaar.

Dlamini-Zuma se antwoord, wat meer as 500 bladsye beslaan, bevat haar verklaring wat ondersteun word deur ’n eedsverklaring deur dr. Cassius Lubisi, direkteur-generaal in die presidensie.

Die regering het verder verklarings deur sewe kenners bekom, onder meer van die Nelson R Mandela School of Medicine, Genesis Analytics, die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Social Surveys SA en twee kennerverklarings van die Universiteit van Kaapstad.

Dlamini-Zuma voer aan dit is die regering se plig om mense se lewens te beskerm tydens die pandemie. Die regulasies van die verbod is ingevolge regulasie 27 gepromulgeer nadat die regte prosedures in die regering gevolg is. Batsa voer aan dit is nie waar nie.

Sy sê verder omdat dit ’n nuwe siekte is, verander die beskikbare inligting voortdurend, maar gegrond op getuienis van haar kenners blyk dit daar is ’n verhoogde risiko van die oordrag van die virus onder rokers en die verbod is ingestel om dié risiko te verminder.

Die verbod is ’n doeltreffende manier om die getal mense wat rook, te verminder. Dié bewerings word ook deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gestaaf, sê Dlamini-Zuma.

’n Verantwoordelike regering moet ’n versigtige benadering volg en dit is baie belangrik om die druk op die land se gesondheidstelsel te verminder,

“’n Verantwoordelike regering moet ’n versigtige benadering volg en dit is baie belangrik om die druk op die land se gesondheidstelsel te verminder,” lui haar verklaring.

Volgens Dlamini-Zuma het die RGN ’n studie gedoen (wat deel is van die dokument) onder 19 000 mense en daarvolgens kon net 11,8% mense steeds sigarette kry, terwyl 88% nie kon nie.

Dié studie word gebruik om die applikante se mening oor die groei in die mark vir onwettige sigarette teen te staan.

Dlamini-Zuma voer aan die resultate van die studie bewys dat die verbod werk en dat die kwesbaarste mense van die samelewing beskerm word.

Sy voer aan sy is besig om die verslapping van die verbod op sekere dele van die tabakbedryf (beginnend met die tabakboere) te oorweeg en die applikante se aanname dat die verbod in werking sal bly op alle produkte, is nie reg nie.

“Dele van die verbod kan opgehef word wanneer dit veilig is,” voer sy aan.

Sy sê verder om moontlike verslapping soos verkoopure en hoeveelhede in werking te stel, soos wat met die alkoholverkope geïmplimenteer is, sal nie met die verkoop van tabakprodukte werk nie.

Batsa het in sy stukke aangevoer die verbod maak inbreuk op rokers se waardigheid en privaatheid, maar luidens Dlamini-Zuma is daar ’n geregverdigde rede hoekom daar ’n verbod is.

Sy voer aan die applikante se aansoek oor regulasie 45 (die verbod) wat tersyde gestel en hersien moet word, is misplaas.

Volgens haar was die proses nie onregmatig nie.

Verder is die applikante ook van mening dat die proses onregverdig was omdat niemand in dié bedryf gevra is om insae te lewer nie.

Dlamini-Zuma reageer daarop deur te sê sy ontken dat sy insae moes kry. Die regering sal altyd alle terugvoering oorweeg, maar uiteindelik moet dit rasioneel en grondwetlik wees. “Dit is ’n objektiewe drempel wat nie deur die openbare stem beïnvloed word nie.”

Ten slotte voer sy aan die applikante het nie ’n sterk genoeg grondslag vir hul aansoek bewys nie.

Sy het die hof gevra om die aansoek van die hand te wys.

Batsa en nege ander applikante het die saak ingedien

Batsa, wat as die grootste vervaardiger van tabakprodukte in die land beskryf word en produkte soos Peter Stuyvesant, Dunhill, Kent en Rothmans vervaardig, het die saak ingedien saam met nege ander applikante waaronder Japan Tobacco International Suid-Afrika wat Camel verkoop.

Die ander applikante sluit in die verbruikers Melinda Ferguson en Keoagile Molobi, asook die tabakwinkel JJ Cale.

Tabakboere is ook applikante soos verteenwoordig deur die Limpopo Tobacco Processors, die South African Tobacco Transformation Alliance, die Black Tobacco Farmers Association en die Southern African Informal Traders Alliance.

Meer oor:  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Suid-Afrika  |  Hof  |  Tabakverbod  |  Sigarette  |  Batsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.