Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tandarts en die tenders: ’n tameletjie

’n Tandarts wat ontpop het as ’n swart-ekonomiesebemagtigings-konstruksiemagnaat ba­klei nou om nie uitgeskop te word uit sy nuutste SEB-vennootskap omdat hy glo nie genoeg tenders laat inrol het nie.

Dr. John Tembalikayise (TJ) Lupepe, voorsitter van die SEB-groep Mdali Consortium, het ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien teen die Portugese konstruksiemaatskappy Mota-Engil Con­struction SA.

Luidens hofstukke was dié twee groepe saam in ’n SEB-vennootskap genaamd MECSA. Mdali het 49% van die aandele in die vennootskap gekry omdat hulle die nodige SEB-geloofwaardigheid sou bied om groot kontrakte te kry.

Lupepe sê verder in sy hofstukke sy pa was ’n groot ikoon van die struggle en hy het baie kontakte in die bedryf.

Dit blyk uit die hofstukke dat Mdali se werk was om tenders van minstens R3 miljard te verkry en Mota-Engil se werk was om die bouwerk te doen. Die winste sou dan tussen die aandeelhouers verdeel word.

Mdali het in 2014 59 van die 120 aandele in MECSA bekom vir R59. Dít is basies die bedrag wat Mota-Engil nou vir Mdali wil teruggee om hulle uit te skop.

Mdali probeer dit met ’n interdik keer.

Lupepe sê sy maatskappy hét R3 miljard se kontrakte opgelewer, maar MotaEngil betwis dit. Onder die projekte wat Lupepe lys as sy arbeidsvrug, is:

  • Die bou van die Kimberley Psigiatriese Hospitaal teen R279 miljoen. Dié hospitaal is gereeld in die nuus omdat dit ná ’n dekade en R2 miljard steeds nie klaar gebou is nie. Verskeie kontrakteurs is oor die jare aangestel. Mota-Engil sê hulle het al die kontrak in 2011 gesluit voordat Mdali betrokke geraak het.
  • Aanbouings aan die Fourways Mall en paaie teen meer as R2 miljard. Mota-Engil sê dié kontrak is eers in November 2015 onderteken, terwyl Mdali se aanvanklike afsnypunt in September 2015 was.
  • Twee laekostebehuisingsprojekte in Bloemfontein en Kaapstad van meer as R440 miljoen. Mota-Engil sê MECSA het wel tenders ingedien vir dié projekte, maar hulle het dit nog nie gekry nie en geen kontrakte onderteken nie. Hulle verstaan nie hoe Lupepe nou al kan beweer die kontrakte is “onderteken” nie.

Mota-Engil sê Mdali se spertyd vir kontrakte is by herhaling uitgestel, maar die verhouding tussen hulle het nou só versuur dat hulle die hele SEB-ooreenkoms nietig wil verklaar en die aandele terugneem. Mdali sê dit sal beteken MECSA het al die jare hulself net voorgedoen as ’n SEB-maatskappy. Mota-Engil vergeet dat hulle nie enige werk sou kon kry sonder Mdali nie, sê Lupepe.

Volgens Mota-Engil is MECSA nou tegnies insolvent en word net aan die gang gehou met geld van Mota-Engil. Dít terwyl Mdali nie ook self geld in MECSA wil stort nie.

Hannes Peyper, Mdali se prokureur, sê Mota-Engil kan nie nou net sy kliënt wil uitskop nie. As Mota-Engil se vertoë aanvaar word dat die SEB-kontrak nietig verklaar moet word, skep dit ’n horde probleme vir al die werk wat MECSA gekry het vanweë sy SEB-status. “Wat word van die tenders wat ingekry is as gevolg van die maatskappy se SEB-status en miljarde rande wat ingebring is?

Die saak is Vrydag aangehoor en die hof sal môreoggend uitspraak lewer in die interdikaansoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.