Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tanya Wiers-saak kom nou eers vólgende jaar voor

"Ek wil weet wat daardie dag in die huis gebeur het."

Só het ’n hoogs ontstelde Rolf Wiers Maandagmiddag in die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, gesê toe die saak teen Frans Maela (28), wat Wiers se vrou, Tanya (44), na bewering vermoor het, weer eens met sewe maande uitgestel is.

"Dit is onaanvaarbaar dat ons lewe nie kan aangaan nie omdat Maela se prokureur te onbevoeg is om sy werk te doen," sê Wiers.

Tanya Wiers (44) is 21 keer met 'n steakmes en skêr in haar huis in Polokwane gesteek.

Maela staan tereg op aanklag van die moord op Tanya op 7 Februarie 2017. Sy is in die gesin se huis in Eduanpark, Polokwane, oorval en nie minder nie as 21 keer met ’n steakmes en ’n skêr gesteek. Haar oë is ook uitgekerf.

Die hof het Maandagmiddag gehoor dat Maela, benewens die aanklag van moord en gewapende roof, ook teregstaan op aanklag van verkragting van Tanya.

Tanya se seun, ook Rolf (18), het op die moorddag ná skool op sy ma se bebloede en halfkaal lyk in die huis afgekom.

Hy het Maandag meestal kop onderstebo in die hofbanke gesit.

Wiers sê sy seun se naskoolse onderrig word benadeel omdat hy nie met ’n kursus by ’n TVET-kollege kan begin nie. Hy is ’n staatsgetuie in die verhoor en mag nie meer as drie dae by die kollege afwesig wees nie, anders verbeur hy die kans om eksamen te skryf.

Bianca, die egpaar se oudste kind (daar is nog ’n dogter van 14 jaar), was teleurgesteld dat die saak al weer uitgestel is.

"Dit krap elke keer net weer ou wonde oop."

Peter Legodi, ’n prokureur van Regshulp SA, het aan regter Gerrit Muller gesê hy het nie voorberei vir die saak nie omdat hy besig was met ’n ander saak en omdat hy "gehoor het" die Maela-saak gaan uitgestel word.

Rolf en Tanya Wiers. Tanya is verlede jaar in Polokwane, Limpopo, vermoor.

Hy het gesê hy wag nog op dokumente van die staat.

Adv. Nosizizwe Molepo, staatsaanklaer, het gesê alle dokumente is verlede week reeds aan Legodi gegee.

Frans Maela (28) staan tereg vir die moord op Tanya Wiers.

Die saak is in Februarie uitgestel omdat die polisie nog op forensiese bewyse van die skoenspore op die toneel gewag het.

Muller het gesê dit word ’n gewoonte by regsverteenwoordigers van Regshulp SA om nie voorbereid te wees wanneer verhore moet begin nie. Hy het Legodi geroskam oor waarom hy nie vir die verhoor voorberei het nie.

Die eerste beskikbare datum waarop Molepo en Legodi albei beskikbaar is, is vanaf 13 tot 24 Mei 2019.

Muller het Maela gewaarsku dat indien sy regsverteenwoordiger nie op 13 Mei gereed is om met die verhoor te begin nie, "die verhoor sonder hom sal voortgaan".

Hy het die staatsgetuies wat die hele dag by die hof moes wag, om verskoning gevra vir die gesloer.

Meer oor:  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Uitstel  |  Moord-Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.