Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tanya Wiers-saak: Polisie was ‘agterlosig’

Alles kom altyd terug na die DNS wat op ’n misdaadtoneel gekry is.

Só het regter Gerrit Muller Donderdag in die hooggeregshof in Polokwane gesê terwyl hy slotbetoë in die Tanya Wiers-moordsaak aangehoor het.

Tanya Wiers het die foto van haarself geneem enkele ure voordat sy in 2017 vermoor is. Foto: Verskaf

Frans Maela (28) ontken dat hy Wiers (44) op 7 Februarie 2017 in haar huis in Loganstraat in Eduanpark vermoor en verkrag het. Hy ontken ook dat hy haar beroof het.

Wiers is meer as 20 keer met ’n skêr en ’n steakmes in haar nek en gesig gesteek. Haar oë was uitgekerf. Maela was die tuinwerker van die Wiers-gesin se bure.

William Kovani, Maela se prokureur, het aan die hof gesê die staat kan nie bewys of die DNS-monsters wat uit Maela se wang gevat is, reg verseël is voordat dit vir forensiese ontleding gestuur is nie.

Adv. David Sebelebele, staatsaanklaer, sê kapt. Regina Cecila Janse van Rensburg, ’n senior forensiese ontleder by die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria, het getuig dat Maela se DNS in ’n semenmonster gekry is.

“Sy het ook getuig dat die forensiese laboratorium in Pretoria geen bewyse aanvaar as dit nie behoorlik geseël is nie.”

Sebelebele het Maela in kruisondervraging gevra wat sy verduideliking is hoe sy semen in Wiers se vagina gekry is.

“Ek weet nie hoe dit gebeur het nie,” het Maela gesê.

Maela het Donderdagoggend sy getuienis afgesluit en volgehou dat hy nie Wiers verkrag, vermoor of beroof het nie.

Tanya Wiers en haar man, Rolf, met 'n seevakansie in 2016. Sy is in 2017 vermoor. Foto: VERSKAF

Hy het aan die hof gesê dat hy Wiers nie eens geken het nie.

“Ek stel dit aan jou dat jy Tanya Wiers verkrag het,” het Sebelebele aan hom gesê.

Die steakmes waarmee Tanya Wiers (44) vermoor is. Foto: SAPD

Maela het eers geantwoord: “ek weet nie daarvan nie” en daarna ontken dat hy haar verkrag het.

Kovani het in sy slotbetoog aan die hof gesê die polisie was nalatig met die insameling van bewyse in die saak. Hy voer aan dat die staat nie bo redelike twyfel kan bewys dat Maela vir Wiers vermoor, verkrag en beroof het nie.

Sebelebele het die hof gevra om Maela skuldig te bevind aan die moord op en verkragting van Wiers sowel as die aanklag van roof met verswarende omstandighede.

’n Samsung-tablet en ’n Samsung-selfoon, sowel as juwele van Wiers is in ’n plastieksak gekry in die buitetoilet wat Maela in die bure se erf gebruik het.

Muller het saam met Kovani gestem en gesê daar was baie agterlosigheid met die polisiewerk.

Maela sal Vrydagoggend sy lot hoor wanneer Muller uitspraak lewer.

Meer oor:  Dns  |  Frans Maela  |  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.