Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Terug in SA 9 jaar nadat hy glo moor

Die 75-jarige Roland Vandekeere moes self vir die vliegkaartjie van meer as R16 000 betaal om sy seun Jurgen, ’n voortvlugtige moordbeskuldigde, terug in die land te kry.

Jurgen Vandekeere in 2012.

Roland sê hy het geen idee gehad waar Jurgen (41) die afgelope meer as ses jaar was nie totdat die konsulaat in Viëtnam hom in Desember uit die bloute gebel het met ’n versoek dat sy seun wil huis toe kom.

Hy het Jurgen Dinsdagoggend op die O.R. Tambo-lughawe opgelaai, wat hom dieselfde middag op advies van sy advokaat aan die polisie in Benoni oorhandig het.

“Ek is bly hy is terug in die land. Daar lê wel vir ons ’n moeilike tyd voor omdat die saak nou weer van voor af moet begin,” het die pa dié week aan Rapport gesê.

“Ek het ’n klomp geld aan regskoste bestee voor Jurgen verdwyn het. Dit was ’n mors van geld.”

Sy pa sê: ‘Ons is nie slegte mense nie. Ons het ons kinders goed grootgemaak.’

Jurgen is aanvanklik in 2011 in hegtenis geneem vir die grusame moord op Chantelle Barnard (20) op dieselfde hoewe in Benoni waar sy pa steeds bly. Hy is op borgtog vrygelaat, maar het in September 2013 gevlug.

Jurgen het Donderdag vlugtig in die hooggeregshof in Pretoria verskyn. Hy word in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria aangehou tot sy volgende verskyning op 27 Maart.

Roland sê hy het Dinsdagoggend lank vir Jurgen gewag. Sy vlug was veronderstel om 9:50 te land. “Ek het ná ’n lang gewag gedink dat die polisie hom reeds in hegtenis geneem het. Ek het omgedraai en toe staan hy langs my. Hy moes eers vir sy bagasie wag.”

Chantelle Barnard

Roland sê sy seun lyk goed. “Toe ek hom laas gesien het, het hy 110 kg geweeg. Ek skat hy het omtrent 20 kg verloor in die tyd wat hy weg was. Hy het wel sy kiestande aan albei kante verloor sedert ek hom laas gesien het.”

Jurgen se ma is vier jaar gelede dood sonder om te weet waar hy is. Roland sê hy is dankbaar sy hoef nie van voor af met die saak te worstel nie. “Dit was alles net te veel vir haar. Twee van ons kinders is in motorongelukke dood en toe gebeur dít. Haar hart kon dit nie als hanteer nie.

“Ons het nie die publisiteit nodig gehad nie. Ek en my vrou is snaaks aangekyk asof ons moord gepleeg het. Ons is nie slegte mense nie en ons het ons kinders goed grootgemaak.”

Roland sê hy het innige simpatie met Barnard se ouers. “Ek verstaan dat hulle antwoorde soek. Ek is daarom bly dat die saak kan aangaan en afgesluit word.

“Chantelle was ’n baie aangename mens en sy het nie verdien wat met haar gebeur het nie.”

Op ’n vraag of Roland in sy seun se onskuld glo, sê hy: “Die getuienis teen hom lyk nie goed nie.”

Barnard is op 1 April 2011 vermoor. Sy en haar kêrel, Brandon Ackerman, het kort tevore uit ’n woonstel op die hoewe getrek. Jurgen was destyds die opsigter daar. Sy is dié dag soontoe om die sleutels te gaan afgee. Suzette Barnard het later haar dogter se naakte lyk in ’n huis op die hoewe gekry.

Roland meen sy seun het moontlik sy epilepsiemedikasie saam met dwelms gebruik.

“Hy het baie vreemd opgetree toe die polisie hom daar aantref. Hy was verward en hy kon nie verstaan wat die polisie daar doen nie. Ek het hom oor en oor gevra wat daar gebeur het, want ek wil ook weet. Hy kon nog nooit vir my enige verduideliking gee nie. Ek glo nie dat hy self weet nie.”

Voordat Jurgen gevlug het, het hy in ’n brief aan sy pa geskryf: “Na my laaste vergadering met die advokate wat gesê het ek kyk na ’n minimum 25 jaar of lewenslank vir ’n misdaad wat ek nie gepleeg of gedoen het nie. (sic) Ek is regtig jammer ek moes weggaan.”

Felix Dlangamandla, ’n Netwerk24-fotograaf, het Jurgen in 2013 op die lughawe in Maputo, Mosambiek, gesien. ’n Foto van hom is na ’n staatsaanklaer gestuur en Interpol is in kennis gestel dat hy glo na Kenia sou vlieg. Hy het egter weer verdwyn.

Roland sê hy het oor die jare al die berigte gelees oor waar sy seun moontlik is, maar het nooit self kontak met hom gehad nie.

“Ek het nooit geweet wat van hom geword het nie.”

Meer oor:  Jurgen Vandekeere  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.