Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Terug uit Brasilië: Verdagte Maandag in hof

’n Paar maande gelede het Gerhard Jansen van Vuuren nog vir sy babadogter in Brasilië Afrikaanse kleuterliedjies geleer.

Vrydag het hy geboei en gelate van ’n vliegtuig op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park afgeklim, vergesel van lede van Interpol-SA.

Sy enigste aardse besittings wat saamgekom het, was die T-hemp, kniebroek en plakkies wat hy aangehad het – en sy Bybel en twee boeke in ’n sak.

Dit is net meer as sewe jaar sedert hy land uit gevlug het om sy moordverhoor in Suid-Afrika te ontduik.

Gerhard Jansen van Vuuren word amptelik deur Interpol-SA aan die plaaslike polisie oorhandig ná sy aankoms op die O.R. Tambo-lughawe. Foto: Melinda Stuurman

Hy sal reeds Maandag weer in die hof verskyn sodat ’n nuwe verhoordatum vasgestel kan word. Hy staan onder meer tereg op aanklagte dat hy sy gewese meisie Andrea Venter (24) aangerand en vermoor het.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het Vrydag kort voor Jansen van Vuuren se aankoms gesê die Interpol-span het Donderdagaand met ’n kommersiële vlug van Brasilië na Suid-Afrika gevlieg nadat hy deur die Brasiliaanse owerhede uitgelewer is.

“Hy is voor sy vertrek vir die koronavirus getoets en dit is negatief,” sê sy.

Beskermingsbevel

Jansen van Vuuren, nou 39, sou in Mei 2013 verhoor word op onder meer aanklagte dat hy Venter stukkend geslaan het met ’n vuisyster en ongeveer 12 keer met ’n mes gesteek het.

Sy het vroeër klagtes teen hom by die polisie in Rustenburg ingedien en selfs ’n beskermingsbevel teen hom gekry.

Sy het uiteindelik werk as ’n rekenmeester in Fourways, Johannesburg, gekry, vermoedelik in ’n poging om van hom weg te kom.

Gerhard Jansen van Vuuren kom met geboeide hande en omring deur lede van Interpol-SA by die O.R. Tambo-polisiekantoor aan. Foto: Melinda Stuurman
Lede van verskillende polisie-eenhede ontmoet die Interpol-span en vir Gerhard Jansen van Vuuren (met die wit hemp) by die polisiekantoor by die lughawe. Foto: Melinda Stuurman
Die boeie wat lede van Interpol-SA aan Gerhard Jansen van Vuuren se polse gesit het, word verwyder en met die van die plaaslike polisie vervang, terwyl ’n ander polisielid die moordverdagte vir oulaas deursoek. Foto: Melinda Stuurman
’n Polisieman maak die boeie waarmee Gerhard Jansen van Vuuren by die O.R. Tambo-lughawe aangekom het los, om dit met die plaaslike polisie s’n te vervang, voordat hy in ’n vangwa klim. Foto: Melinda Stuurman

Daar is destyds beweer dat Jansen van Vuuren (toe 30 jaar oud) meer as 30 ouditeursfirmas in die Johannesburg-omgewing gebel het om Venter op te spoor. Hy het uitgevind waar sy in Fourways woon.

Daar is glo kringtelevisieopnames van die veiligheidskompleks waar sy gewoon het wat wys hoe sy op 2 Mei 2011 om 05:30 na die kompleks se hek vlug en met die mens aangeval word. Dit wys glo ook hoe Jansen van Vuuren die mes in sy eie nek steek.

Muridili het Vrydag gesê die polisie het daarna telkens sy borgtogaansoeke suksesvol teengestaan, totdat Jansen van Vuuren hom tot die hooggeregshof in Johannesburg gewend het. Hy is op borgtog van R15 000 vrygelaat. Vier dae voordat die verhoor sou begin, het hy gevlug.

Die volgende jaar is Jansen van Vuuren in Brasilië in hegtenis geneem weens die besit van vervalste identiteitsdokumente en omdat hy ’n polisieman probeer omkoop het. Hy is daar tot vier jaar en vier maande tronkstraf gevonnis. Hoewel Suid-Afrika ’n uitleweringsaansoek vir die voortvlugtende gedoen het, is hy later daar “verkeerdelik” vrygelaat en het weer verdwyn.

Verskeie Suid-Afrikaanse polisie-eenhede het egter weer sy spoor gevind en op 18 Junie vanjaar is Jansen van Vuuren in Rio de Janeiro in hegtenis geneem.

Praat met ma oor foon

Vrydag is hy by ’n diensdeur langs die O.R. Tambo-polisiekantoor uitgelei en amptelik deur die Interpol-lede aan die plaaslike polisie oorhandig en in ’n vangwa weggery.

Gerhard Jansen van Vuuren klim in die vangwa wat hom wegneem. Foto: Melinda Stuurman
Terug op pad selle toe nadat hy vir langer as sewe jaar voortvlugtend was. Foto: Melinda Stuurman

’n Ruk later is hy toegelaat om vinnig met sy ma, Thea Pretorius, oor die foon te praat.

Nie sy of Andrea se pa, Dries Venter, was Vrydag by die lughawe nie.

Pretorius het later gesê: “Ek sal altyd ’n ma bly. En soos ’n ma by my kind staan. Daar is baie emosies, maar ook dankbaarheid dat ek hom ná meer as ses jaar weer sal kan sien,” het sy later gesê.

Die laaste keer dat Pretorius vir Jansen van Vuuren gesien het, was toe sy in 2014 vir hom in die tronk in Brasilië kon gaan kuier, nadat hy vir die eerste keer daar gevang is.

“My hart is net dankbaar dat ná baie jare van baie gebede dat die Here se wil moet geskied, dit nou gebeur het. Ons het ’n gebedsgroep wat ook ingetree het vir genade en rustigheid, ook vir Dries-hulle, want my hart gaan uit na hom. Ek hoop daar kan genesing en afsluiting hieruit kom,” het sy bygevoeg.

Dries het Vrydag erken hy “bly maar huilerig”.

My hart is net dankbaar dat ná baie jare van baie gebede dat die Here se wil moet geskied, dit nou gebeur het.

Venter was sy laatlam. Hy glo haar ma is in 2016 dood “as gevolg van hartseer”.

“Ek is verlig dat daardie man terug is. Ek het nie ’n probleem met sy ma nie. Ek het ’n ‘case’ met hom – hy het my kind (na bewering) doodgemaak en hy moet die prys betaal.

“Die seer is nog rou oor my meisiekind. Miskien sal ek nou rustigheid vind.”

Andrea Venter was 24 toe sy vermoor is. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.