Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Terugslag vir Zuma of jakkalsstreek?

Twee jaar nadat oudpres. Jacob Zuma gekla het hy moet sy “sokkies en hoede verkwansel” om sy regskoste te delg, het nóg ’n prokureur sy bande met die 79-jarige oudpresident verbreek.

Eric Mabuza, wat die afgelope jaar Zuma se prokureur was, het die hooggeregshof in Pietermaritzburg Woensdagoggend per brief in kennis gestel dat hy nie meer Zuma se prokureur sal wees wanneer hy op 17 Mei in die hof moet verskyn nie.

Oudpres. Jacob Zuma in 2019 in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Durban. Foto: Felix Dlangamandla

Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staan in dié hof tereg op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery met die eertydse wapenskandaal.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het dit bevestig.

Ngwema sê die NVG is gereed om voort te gaan met die saak, wat nou al baie jare sloer.

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, het ook bevestig dat Mabuza hom as Zuma se prokureur onttrek het.

Mabuza, wat die afgelope jaar as prokureur vir Zuma moes bystaan in sy bittere stryd teen die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en die konstitusionele hof, wou by navraag nie sê hoekom hy hom as prokureur onttrek het nie.

Eric Mabuza Foto: Gallo Images

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê omdat Mabuza geen rede verskaf het nie, kan daar net bespiegel word.

Dit kan wel wees dat sy regspan se onttrekking vir Zuma tyd kan “koop” omdat dit hoogs onwaarskynlik is dat die saak in Mei sal kan voortgaan. ’n Nuwe regspan sal eers aangestel moet word.

“Vir my is dit maar weer net nog ’n verdere jakkalsdraai deur ’n politieke glyjakkals wat probeer om die onafwendbare uit te stel.”

Die konstitusionele hof sal waarskynlik gouer as later bekend maak of hy gehoor sal gee aan ’n versoek van die Zondo-kommissie om Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Dit is omdat Zuma weier om gehoor te gee aan die konstitusionele hof se opdrag dat hy voor die Zondo-kommissie móét verskyn nadat meer as 40 getuies hom by staatskaping betrek het.

Zuma kan twee jaar tronk toe gestuur word as hy skuldig is.

Vir my is dit maar weer net nog ’n verdere jakkalsdraai deur ’n politieke glyjakkals wat probeer om die onafwendbare uit te stel.

Die besluit van Mabuza om hom te onttrek volg ook net ’n week nadat Zuma in die appèlhof in Bloemfontein slae gekry het.

Die appèlhof het beslis Zuma, wat al jare lank kat en muis met die howe speel, moet ’n groot deel van sy regskoste – wat tot R25 miljoen kan beloop – betaal.

Nadat Michael Hulley, ’n Durbanse prokureur sedert 2005 Zuma se prokureur was, het hul paaie in 2018 geskei.

Wyle adv. Kemp J. Kemp, wat Zuma al in 2003 toe hy hom in sy verkragtingsaak verdedig het, bygestaan het, was soos Hulley tot in 2018 in Zuma se hoek.

Destyds is bespiegel ’n gebrek aan geld was die rede waarom Zuma sy bande met Hulley en Kemp verbreek het.

Hierna het die oudpresident vir Daniel Mantsha as prokureur aangestel, wat hom twee jaar lank van regsadvies bedien het.

Zuma het hom in April 2020 die trekpas gegee.

Adv. Muzi Sikhakane SC, wat saam met Mantsha vir Zuma verdedig het, was ook die advokaat in Mabuza se termyn.

Mabuza en Sikhakane was die twee regskenners wat Zuma met raad en daad moes bystaan in die appèlhofsaak oor die lastersaak wat Nkandla se bekendste inwoner teen oudminister Derek Hanekom verloor het.

Hoewel dit nie bekend is of Sikhakane in dié rol sal voortgaan nie, het Mathabela toegegee dit kan wees dat Sikhakhane hom ook kan onttrek omdat hy en Mabuza as ’n span saamgewerk het.

Sikhakane kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging, wat noue bande met Zuma het, sê hy weet nie wie Zuma nou sal verteenwoordig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.