Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Thales: Regverdige verhoor ‘nie nou moontlik’

Die getuies in ’n korrupsiesaak is ná die 14 jaar dat die saak al sloer, siek, onopspoorbaar of dood en dít druis in teen ’n aangeklaagde se reg op ’n regverdige verhoor.

thales
Oudpres. Jacob Zuma Dinsdag in die hooggeregshof . Foto: Felix Dlangamandla

Dis een van die gronde van ’n aansoek deur die medebeskuldigde van oudpres. Jacob Zuma om vervolging permanent te laat opskort.

Zuma en Thales South Africa, ’n filiaal van die Franse wapenvervaardiger Thales, staan tereg op aanklagte wat verband hou met die wapenskandaal van 1999.

Hulle verskyn in die hooggeregshof in Pietermaritzburg.

Adv. Mushahida Adhikari, vir Thales, het Dinsdag in die maatskappy se aansoek aangevoer die maatskappy het ’n gebrek aan getuies, aangesien almal wat destyds by die beweerde omkopery betrokke was, nie meer daar werk nie.

Die getuies wat hulle sou wou roep, is nêrens in die land nie en Interpol kon hulle ook nie in die buiteland opspoor nie, het sy gesê.

“Die NVG sê ons het dokumente, maar wat help dit as daar niemand is om die dokumente te verstaan nie? Dis ’n fundamentele reg in jou regverdige verhoor om die getuienis in jou verhoor te toets.

“Jy moet tog ’n weergawe hê om tydens kruisondervraging te stel. Thales het nie getuies of die vermoë om die staat se getuienis uit te daag nie.”

Adv. Anton Katz SC het aangevoer dat adv. Shaun Abrahams, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, se besluit om Thales saam met Zuma te vervolg, irrasioneel en dus ongeldig is.

Oudpres. Jacob Zuma Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Felix Dlangamandla

Sedertdien het hy die wind van voor gekry met ’n soms vurige debat tussen hom en regters Bhekisisa Mnguni, Esther Steyn en Thoba Poyo-Dlwati.

Katz het aangevoer Thales kan nie net bloot tot die saak “gevoeg word” net omdat hy jare gelede daarmee verbind is nie.

Katz het baie hard probeer om die hof te oortuig Zuma en Thales se sake kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie en dat Thales nie net aangekla kon word omdat klagte teen Zuma opnuut ingestel is nie.

Daar word beweer dat Thales, vroeër bekend as Thomson-CSF, ’n kontrak van miljarde rand gekry het om wapenstelsels aan die Suid-Afrikaanse vloot te verskaf. ’n Filiaal van die groep, Thint, is daarvan beskuldig dat hulle Zuma R500 000 per jaar, glo via die omstrede sakeman Schabir Shaik, betaal het om die maatskappy te beskerm in die ondersoek na beweerde ongerymdhede in wapenaankope.

Katz het aangevoer die wet bepaal Abrahams se besluit om weer klagte teen Thales in te stel moes “nuut” en “oorspronklik” wees. Thales moes as’t ware van voor af aangekla word.

Katz het ook aangevoer die lang vertraging van die saak “wat nie Thales se skuld is nie”, benadeel die maatskappy verder.

Adv. Shaun Abrahams, destydse nasionale direkteur van openbare vervolging. Foto: Argief
Adv. Anton Katz, wat namens Thales opgetree het. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Adhikari is die oponthoud deur dinge buite Thales se beheer veroorsaak, soos die staat wat nie betyds die akte van beskuldiging gereed gehad het nie, en Zuma se eie regstryd oor die geldigheid van die staat se verskillende lasbriewe.

Die staat het ’n slag ook die saak van die rol geskrap.

Hierop het regter Steyn vir Adhikari gevra waarom Thales nie tóé aangedring het op ’n verhoor nie.

Volgens Steyn kon Thales gesê het “dat ons reg is om te pleit, maar die staat se optrede verhinder ons om so te maak”.

Die dag het bestaan uit lang en tegniese argumente en selfs Zuma het in ’n stadium ’n uiltjie in die bedompige hofsaal geknip.

Minder mense het Zuma Dinsdag buite die hof ondersteun as Maandag. ’n Groep van omtrent 50 MK-veterane en ondersteuners het by Freedom Park oorkant die hooggeregshof saamgedrom.

Biskop Vusi Dube, wat die ondersteuners saamroep, het aan News24 gesê dat daar was nie (vandag) busse om die ondersteuners aan te ry nie, “maar ons is besig om iets vir Vrydag te reël”.

* Die korrupsiesaak is uitgestel tot 15 Oktober, hangende die uitkoms van vandeesweek se siviele hofsaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.