Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Thandi onskuldig, was nie daar of bewus van diere se lyding’

Thandi Modise het ’n “soort alibi” wat bewys dat sy nie skuldig aan wreedheid teenoor diere is nie: Sy was nie op haar plaas toe die diere alleen gelaat is nie én sy was nie bewus van die diere se lyding nie.

“Die aanklagte teen haar moet teruggetrek word omdat geen van die getuies wat AfriForum geroep het, bewys het dat sy die diere doelbewus laat ly het deur hulle te verlaat en nie genoeg voer te verskaf nie,” het Dali Mpofu, Modise se advokaat, Donderdag aangevoer.

Thandi Modise praat Donderdag in die Potchefstroomse streekhof met haar regspan. Foto: Susan Cilliers

Nadat AfriForum sy saak teen Modise, speaker in die parlement, in die streekhof in Potchefstroom gesluit het, het Mpofu ingevolge art. 174 van die Strafproseswet aansoek gedoen dat die ses aanklagte teen haar teruggetrek word.

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) het in Julie 2014 op die haglike toestande op haar plaas naby Potchefstroom afgekom: Talle diere het gevrek weens hongerte, honderde moes uitgesit word en ander was erg verswak.

Thandi Modise Donderdag in die Potchefstroomse streekhof in gesprek met haar regspan. Foto: Susan Cilliers

AfriForum vervolg Modise privaat namens die NRDBV nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit het dat daar nie genoeg bewyse teen haar is nie.

Adv. Gerrie Nel van AfriForum het Donderdag in die hof gesê Modise se optrede is “die swakste voorbeeld nóg van plaasbestuur”.

Hy sal Vrydag AfriForum se teenargumente in Modise se aansoek om ontslag voer.

Mpofu voer aan dat die saak teen Modise “is polities gemotiveer is om haar in verleentheid te stel”.

Thandi Modise Donderdag in die Potchefstroomse streekhof by Dali Mpofu (middel), haar advokaat, en Wesley Vittee, haar prokureur Foto: Susan Cilliers

Luidens die klagstaat het sy haar tussen Mei en Junie 2014 “onwettig en doelbewus aan wreedheid teenoor diere” skuldig gemaak deur nie genoeg voer en water te verskaf nie terwyl die meeste van die diere in hul onderskeie hokke/krale ingeperk was. Sy word ook daarvan beskuldig dat sy haar diere willens en wetens verlaat en só omstandighede vir onnodige lyding geskep het.

Mpofu het Donderdag aangevoer dat die vervolging se eie getuie, die plaaswerker Tebogo Mokaedi, erken het dat hý die plaas einde Junie 2014 verlaat en die meeste van die diere in hokke toegemaak het.

“Hý moes aangekla gewees het. Die feit dat Modise nie bewus was van die probleme nie, weerspreek die basiese element van die aanklagte naamlik ’n doelbewuste optrede. Die vervolging het bloot bewys dat diere op die plaas dood is en van hulle verswak was, en nie dat Modise aan ’n misdryf skuldig is nie.”

Thandi Modise praat Donderdag in die Potchefstroomse streekhof met adv. Dali Mpofu (regs), haar regsverteenwoordiger. Foto: Susan Cilliers

Mokaedi het Woensdag getuig dat hy die plaas verlaat het nadat hy tien weke daar gewerk het, maar geen betaling ontvang het nie. Hy het glo honger gely en die varke het begin vrek omdat die voer opgeraak het.

Kharabo Thloale het hom glo in om en by Mei 2014 gewerf om op Modise se plaas te gaan werk.

Thloale het Donderdag getuig dat ene Wendy (haar van is onbekend) hom gevra het om iemand te kry om op Modise se plaas te gaan help. Sy was glo Modise, destyds Noordwes se premier, se sekretaresse.

Mokaedi was alleen op die plaas nadat die vorige plaaswerker, ene Shadrack, hom gewys het waar die dierevoer en -medisyne is.

Thloale het getuig dat toe hy Mokaedi plaas toe geneem het, het hy gesien die varke is maer. Shadrack het glo aan hom gesê dit is omdat hy hulle net elke tweede dag voer sodat die voer kan hou.

Kharabo Thloale, wat ’n plaaswerker vir Modise gewerf het. Foto: Susan Cilliers

Thloale het ook getuig dat Mokaedi in die tyd dat hy op die plaas was, twee keer gebel het om te sê dat die voer op is.

Hy het getuig dat hy gemeen het dat daar genoeg voer was nadat ’n vrag van R20 000 afgelewer is. Volgens hom het Mokaedi die diere te veel gevoer en die kos het daarom te gou opgeraak.

Volgens Thloale het Mokaedi ook oor verskeie aspekte in sy verklaring gejok, onder meer dat hy net R30 per dag betaal sou word. Volgens Thloale kon hy Wendy glad nie in die hande kry nadat Mokaedi hom laat weet het dat hy die plaas verlaat nie.

Op grond van Thloale se getuienis het Mpofu aangevoer dít bewys dat Modise wél genoeg voer verskaf het.

Nel het Thloale gevra of hy al ooit geboer het, weet hoeveel kos varke moet kry en of hy die diere op Modise se plaas getel en seker gemaak het van die hoeveelheid voer.

Thloale het erken dat hy dit nie gedoen het nie, maar op grond van die voer wat afgelewer is, geskat het dat daar genoeg voer was. Volgens hom was daar water op die plaas en het die hoenders en skape vir hom gesond gelyk toe hy Mokaedi soontoe geneem het.

Thloale was ná skool vir ’n tyd lank ’n werktuigkundige voordat hy as motorbestuurder en bode vir Noordwes se provinsiale regering gewerk het. Hy het Wendy daar leer ken. Hy het ook ’n sjebien en snoepwinkel bedryf.

Hy het getuig dat Modise hom nooit vir sy hulp om Mokaedi te werf betaal het nie.

Luidens die klagstaat moes die NRDBV in Julie 2014 meer as 224 erg verswakte diere, onder meer varke en skape, op Modise se plaas van kant maak.

Ferdi van Aswegen, ’n dierevoedingkundige, het vroeër getuig dat die varke reeds uitgeteer was en gevrek het toe hy Modise se plaas in November 2013 besoek het.

Hy het glo gesien hoe varke aan dooie varke se karkasse vreet.

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts, het getuig dit lyk of van die diere, wie se verrottende oorblyfsels in Julie 2014 op die plaas gevind is, omtrent 18 maande tevore al gevrek het.


Meer oor:  Thandi Modise  |  Lyding  |  Diere  |  Thandi Modise-Saak  |  Aanklagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.