Tien aktiviste van Greenpeace wat die T20-krieketwedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika Sondag op SuperSportpark in Centurion ontwrig het deur aandag op die besoedelde lug in Gauteng en Mpumalanga te vestig, het Maandag vlugtig in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Die aktiviste is Sondagmiddag in hegtenis geneem en het die nag in die Sunnyside-polisieselle deurgebring.

’n Boodskap aan Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, wapper aan een van die spreiligte by SuperSportpark in Centurion. Foto: GETTY
Al tien is Maandag vrygelaat. Geen klag is aan hulle gestel nie, maar die staat het aangevoer hy gaan die saak verder ondersoek voordat die aktiviste formeel aangekla sal word.
Lindlyn Moma, Greenpeace se programdirekteur, het Maandag gesê van die aktiviste het op die veld probeer gaan en wou ’n gesigmasker aan Quinton de Kock, die Proteas se kaptein, oorhandig. Veiligheidswagte het hulle gekeer.
Van die ander het bloot ’n banier met die woorde #BowlOutAirPollution teen die spreiligte by die stadion opgehang om spelers en toeskouers te waarsku teen die besoedelde lug wat hulle inasem. Hulle is daarna in hegtenis geneem.
Hierdie optrede was ook ’n poging om die aandag van Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, te trek. “Ons doen ’n beroep op haar (Creecy) om die krisis te keer wat deur lugbesoedeling geskep word. Sy moet met mening optree.”
Moma sê aktivisme is nie ’n misdaad nie.
“Ons is baie trots op ons dapper aktiviste wat bereid is om alles te probeer om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om beslissend op te tree om die land se besoedelingskrisis op te los.
“Greenpeace Africa sal voortgaan om saam met enigiemand te werk wat gewillig is om op te tree ter wille van skoon lug vir ons almal in die land,” sê sy.
Moma wy daarop dat Greenpeace se aktiviste deur mense oor die wêreld heen ondersteun word wat na oplossings vir lugbesoedeling op soek is.
“Minister Creecy moet luister na ons versoek en kan nie meer mega-steenkoolbesoedelaars soos Eskom en Sasol toelaat om met hul bedrywighede voort te gaan nie.”
Volgens haar volg dié optrede op die verslag wat verlede Woensdag deur Greenpeace Suidelike Asië en die sentrum vir navorsing in energie en skoon lug bekend gestel is waarin bevind is dat 13 000 kinders en tieners jaarliks in Suid-Afrika weens lugbesoedeling sterf.
Nhlanhla Sibisi van Greenpeace en ’n aktivis vir die klimaat en skoon energie, sê mense het die reg op skoon lug. “Ons veg om elke Suid-Afrikaner se gesondheid, om dié van elke kind en om dié van ons krieketspelers.”