Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tiener ‘vertel leuens’ in hof oor Rust-moord
Nigel Plaatjies getuig in die landdroshof op Wellington. Hy en sy oom Johannes Plaatjies word aangekla van die moord op die bekende skrywer Winnie Rust.

Nigel Plaatjies (19) se weergawe van wat tydens die moord op die skrywer Winnie Rust plaasgevind het, is Dinsdag in die hof in twyfel getrek.

Hy en sy oom Johannes Plaatjies (34) het in die landdroshof op Wellington vir sy borgtogaansoek verskyn.

Die saak is tot Maandag uitgestel en albei bly in aanhouding in verband met die moord op die Wellingtonse skrywer in haar huis.

Petro-Lee Louw, Johannes se prokureur, het Nigel uitgevra oor die gebeure met die moord op Rust (77), hoe hy daarby betrokke geraak het en die verklarings wat hy aan die polisie afgelê het.

Volgens haar het Nigel se getuienis met sy vorige verskynings verskil van sy aanvanklike verklaring toe die polisie hom pas ná Rust se moord ondervra het.

Dit is bevraagteken waarom Nigel glo later ’n ander weergawe van die gebeure aan die polisie gegee het en waarom hy verklarings onderteken het indien hy geweet het dit bevat foute.

Nigel het volgehou dat hy sy prokureur se aanbevelings gevolg het en nie die geleentheid gebied is om sy volledige weergawe van die gebeure oor te vertel nie. Hy het ook beweer die polisie het nie sy weergawe korrek neergeskryf nie.

Louw het gevra waarom Nigel nie tans bang is vir moontlike wraak van sy oom teen hom en sy gesin nie indien hy tydens die moord en rooftog gedreig is om stil te bly.

Sy het ook bevraagteken hoe Nigel vir seker kan weet dat die briewe wat in die tronk aan hom oorhandig is wel deur Johannes geskryf is om hom te intimideer.

Nigel het met vorige verskynings met sy borgtogaansoek briewe voorgelees wat glo deur ’n vriend van sy oom in die tronk aan hom gestuur is.

Jy het aan die polisie doelbewuste leuens vertel, so hoekom moet die hof jou nou glo.

Later het adv. Mornay Julius, staatsaanklaer, gesê Nigel blameer “baie maklik” die polisie en sy prokureur en gevra waarom sy prokureur nie in sy belang sou optree en instruksies volg nie. Hy het ook gevra waarom die polisie iets anders neerskryf as wat hy gesê het.

Volgens Julius het Nigel “van sy storie verander” toe hy meegedeel is watter getuienis teen hom gebruik sal word. “Só kon jy maande daaroor nadink en stories opmaak.”

Hy het gesê Nigel is ’n “onbetroubare getuie” en vertel leuens in die hof.

“Jy het aan die polisie doelbewuste leuens vertel, so hoekom moet die hof jou nou glo?”

Nigel het geantwoord hy was bang en nog geskok oor wat gebeur het.

Volgens Julius is dit egter duidelik dat Nigel en Johannes “ewe betrokke” in die beplanning en uitvoer van die rooftog was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.