Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tieraanval: Vrou wil eks insluit by eis, 'was nie bewus van gevaar'

Jeanri van der Merwe (20) het nie gedink dat die wit tier wat die boonste litte van twee van haar vingers afgeskeur het ’n gevaar vir haar inhou nie.

So lui die jongste hofstukke in haar eis van R1,1 miljoen teen die eienaar en die plaasvoorman van die wildplaas in die distrik van Reddersburg.

Want gaste op die bekende Mooifontein-wildplaas is in haar teenwoordigheid soms in die wilde diere se kampe toegelaat om interaktief met die diere te wees, word in dié stukke in die hooggeregshof in Bloemfontein beweer.

’n Aansoek om Marco Matthee, tot Februarie vanjaar die plaasvoorman op dié plaas waar die Mooifontein Private Game Ranch bedryf word, ook as ’n verweerder in haar eis te voeg, is ook by die hof ingedien.

Jeanri van der Merwe Foto: Verskaf

Sy en ander mense was Matthee, haar destydse kêrel, se gaste op die plaas toe die tier haar op 28 Desember verlede jaar gebyt het. Die boonste litte van haar middel- en ringvinger aan haar regterhand is afgeskeur.

Indien die aansoek slaag, sal Matthee nou saam met die maatskappy El Gondor Trading 102 van Dean Loser vir haar skade verantwoordelik gehou word. Die plaas behoort aan die maatskappy.

Luidens die voorgenome wysigingsaansoek van die besonderhede van die eis het die eienaar van die plaas geweet dat Matthee gaste op die plaas ontvang en hulle toelaat om na die kampe te gaan waar die wilde diere aangehou word.

Dié dag het Matthee nie behoorlike beheer en toesig uitgeoefen terwyl die gaste by die kampe was nie en het hulle alleen daar gelos. Dit is voorsienbaar dat sulke gaste aan die heining van die kampe sou raak, word beweer.

Hy het op die plaas gewoon en het in die loop en omvang van sy indiensneming opgetree, lui die eis.

Die maatskappy sê in sy verweer dat Matthee gedurende die voorval “nie in die loop en omvang van sy indiensneming opgetree het nie” en Jeanri is al verskeie keer gewaarsku om nie naby die heining van die tier se kamp te kom nie.

Die eienaar van die plaas het nie behoorlike stappe gedoen om te verhoed dat Matthee mense wat hom besoek, toelaat om naby die kampe te kom nie, word beweer.

Die gaste is ook nie genoegsaam of enigsins gewaarsku om van die heinings weg te bly nie.

Die eienaar van die plaas en Matthee het ’n wetlike plig gehad om te verseker dat die wilde diere, veral die tier, nie ’n gevaar vir besoekers aan die plaas inhou nie, lui die voorgenome wysigingsaansoek.

In sy verweerskrif ontken die maatskappy die bewering dat hy of sy werknemers nalatig was deurdat hulle nie die nodige voorkomende stappe gedoen het om te verhoed dat die tier mense kan aanval nie.

Die maatskappy sê in sy verweer dat Matthee gedurende die voorval “nie in die loop en omvang van sy indiensneming opgetree het nie” en Jeanri is al verskeie keer gewaarsku om nie naby die heining van die tier se kamp te kom nie.

Adv. Neil Snellenburg SC tree in opdrag van Rikus Stander van Stander en Vennote vir Van der Merwe op.

Adv. Stefan Grobler SC, in opdrag van Daniel Muller van Kramer Weihmann-prokureurs, het die verweerskrif vir Elgondor Trading 102 opgestel. Muller is ook Matthee se prokureur.

Meer oor:  Mooifontein-Wildplaas  |  Jeanri Van Der Merwe  |  Reddersburg  |  Aanval  |  Tieraanval  |  Tier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.