Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Toanette het geld betaal wat sy skuld

Toanette Els, die Boer soek ’n vrou-deelnemer wat van bedrog aangekla word, het die geld waarmee sy blykbaar iemand “ingeloop” het, reeds terugbetaal.

Rapport het hierdie week vasgestel dat Els haar skuld Maandag vereffen het, drie dae nadat sy op ’n aanklag van bedrog in die landdroshof in Modimolle verskyn het.

Els het gister aan Rapport gesê sy het haar skuld vereffen.

Toanette Els

Jana Smit, die vrou wat die bedrogklag teen haar ingedien het, het dit bevestig.

Smit se klag spruit uit ’n veldwagterskursus wat die 23-jarige Els, wat buite Modimolle met wild boer, op Facebook geadverteer het. Smit het haar dogter, Christa, vir die kursus, wat R35 000 sou kos, ingeskryf. Nadat die kursus ’n paar keer uitgestel is, het Els haar in Junie in kennis gestel dat dit op 1 Julie sou begin en op ’n deposito van R10 000 aangedring.

Smit sê nadat Els die kursus wéér gekanselleer het, het sy genoeg gehad van die “wispelturigheid” en haar geld teruggevra. Sy sê die dag waarop Els die geld sou betaal, het “gekom en gegaan” en sy het die klag gaan indien.

Smit sê ’n mediastorm was die laaste ding wat sy wou hê.

“Hoewel ek glo Toanette was verkeerd, is dit nie hoe ek dinge doen nie. Koerante is wreed. Dit gaan nie vir julle oor die dieper storie nie, dit gaan vir julle oor die sensasie. Nou is hierdie ’n hengse storie,” het sy hierdie week aan Rapport gesê.

Smit sê sy voel jammer vir Els, want sy is nog jonk.

“Ek weet nie of sy dit as ’n reël doen nie en of dit net ’n kwessie van omstandighede was nie. Dit kon my kind gewees het. Niks wat ek nou doen, gaan hul seer minder maak nie.

“Dis nie net sy nie. Dis haar ouers, haar broer, haar mense. Dis nie vir ons om te besluit is die meisiekind eerbaar nie. My gut sê vir my die kind was oorweldig gewees. Sy het in ’n situasie beland waar sy nie geweet het hoe om uit te kom nie,” het Smit gesê.

Els het aan Rapport gesê dat sy nie Smit se deposito onmiddellik kon betaal nie omdat sy self ’n deposito vir verblyf vir die studente moes betaal en dit eers moes terugkry voordat sy vir Smit kon vergoed.

Haar broer, wat in Engeland woon, het haar uiteindelik gehelp met die geld om Smit terug te betaal.

Wilmer Muller, ’n woordvoerder van Boer soek ’n vrou, sê kykNET het kennis geneem van die saak en respekteer die regsproses.

Els moet op 15 Augustus weer in die hof verskyn.

Meer oor:  Toanette Els  |  Bedrog  |  Skuld  |  Boer Soek 'N Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.