Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Toetssaak oor e-tol uiteindelik in hof

Die langverwagte eerste toetssaak vir miljoene motoriste wat hulle teen e-tol verset, is uiteindelik in die hof.

Die proefkonyn is ’n vervoermaatskappy, Thandanani Packers & Hauliers, van Benoni wat glo meer as R400 000 tolgeld skuld vir die tydperk tussen Januarie 2014 en Augustus 2015.

Venugopal Lutchman Naidoo, direkteur van Thandanani Packers & Hauliers, het aan Rapport gesê sy onderneming staan die eis teen omdat hy eenvoudig nie die e-tolgeld kan bekostig nie.

“As ek dit moet betaal, sal ek my onderneming moet sluit,” sê hy.

Dié saak is aan regter Ronél Tolmay van die hooggeregshof in Pretoria toegewys om te bestuur en te prioritiseer, sê Vusi Mona, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse padagentskap (Sanral).

Sanral het nou al 15 505 dagvaardings uitgereik.

Sanral bevestig ook dat hy nou sowat 4 000 dagvaardings per maand uitreik aan motoriste wat nie hul e-tol betaal het nie.

Dít ten spyte van ’n “politieke besluit” oor die toekoms van die projek waarop hulle wag, bevestig Mona.

Rapport het in April 2016 berig oor die heel eerste dagvaardings wat uitgereik is in die hooggeregshof (bykans 1 000) en laer howe (meer as 4 000). Sanral het egter nog nie een van dié sake tot by ’n verhoor gedryf nie.

Volgens Mona het Sanral nou al 15 505 dagvaardings uitgereik. Dit kom nou eers op dreef, omdat Sanral aanvanklik ander skuldinvorderingsmetodes probeer het. Mense wat nou gedagvaar word, is dus al geruime tyd deel van die skuldinvorderingsproses.

Sanral en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) is al twee jaar in gesprek om ’n toetssaak oor e-tol voor die hof te kry.

Andrea Korff, Outa se regsverteenwoordiger wat Thandanani bystaan, sê hulle probeer om Thandanani en ander maatskappye en individue wat reeds deur Sanral vir agterstallige skuld gedagvaar is, se sake in een toetssaak te konsolideer.

Dit is omdat net maatskappye met groot rekeninge in die hooggeregshof gedagvaar word, terwyl individue eerder in ’n landdroshof gedagvaar word.

Outa het reeds opponerende stukke ingedien, sê Korff. Hy voer aan dat die e-tolstelsel onregmatig en ongrondwetlik is.

Hul argumente sluit in:

  • Die publiek is ’n rat voor die oë gedraai oor die aanvanklike koste en die bedryfskoste van die e-tolprojek; en
  • Die nodige wetlike prosesse is nie gevolg om die publiek van Sanral se voornemens in te lig nie. Hulle maak beswaar dat die onderskeie tolpaaie net geadverteer is in Beeld, The Star, Sowetan, Pretoria News, Mail&Guardian, Sunday Times en die Staatskoerant.

“In die meeste publikasies is dit in die sake-afdelings van die koerante geadverteer.”

Dit was ook net in Afrikaans en Engels. Outa sê Sanral moes van televisie, radio, selfoonveldtogte, sosiale media en padtekens langs die dele wat geraak word, gebruik gemaak het.

Outa meen ook Sanral was verkeerd om net “die statutêre minimum van 30 dae” vir kommentaar toe te laat.

  • Die publiek se grondwetlike reg om vryelik te kan beweeg, is hierdeur beperk, en daar is nie genoeg alternatiewe roetes nie.
  • Die regering se besluit om die paaie tot tolpaaie te verklaar, is irrasioneel omdat hulle nie alternatiewe vir finansiering, soos ’n brandstofheffing, in ag geneem het nie.

Outa was al tot in die konstitusionele hof om die implementering van die e-tolstelsel te probeer keer.

Die konstitusionele hof het in 2012 geweier om die implementering te verhinder, en het gesê die hof is weens die skeiding van magte lugtig om in te meng by die regering se beleidsbesluite.

Korff sê die konstitusionele hof het egter nog nie beslis oor die kwessies wat hulle nou aanraak nie. In daardie saak het dit gegaan oor of ’n interdik toegestaan kon word om die e-tolprojek te keer.

Korff voorsien wel dat die toetssaak tot in die konstitusionele hof gaan draai.

Meer oor:  Benoni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.