Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Tolhekskieter’ se saak oorgeplaas

Die saak teen die man wat in Desember verskeie skote met ’n rewolwer by die bedrywige Doornpoort-tolplaza afgevuur het, gaan dalk na die streekshof oorgeplaas word.

Leon Rodeom
Leon Rodeom, wat glo lukraak skote by ’n tolhek afgevuur het.

Leon Rodeom (54) van Sinoville, Pretoria, het Vrydag vlugtig in die distrikshof in Pretoria-Noord op aanklag van die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek, die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van 89 rewolwerpatrone verskyn.

Hy het intussen ’n regsverteenwoordiger aangestel nadat hy op 12 Januarie vanjaar vasgetrek is en later op borgtog van R1 000 vrygelaat is. Een van die borgtogvoorwaardes was dat die beskuldigde elke vuurwapen in sy besit, gelisensieerd of nie, aan die polisie moes oorhandig.

Tydens sy hofverskyning Vrydag het die staatsaanklaer gevra dat die saak uitgestel word sodat ’n senior beheeraanklaer na die dossier kan kyk en beslis of die saak eerder na die streekshof oorgeplaas moet word. ’n Streekshof het ’n hoër vlak van jurisdiksie as ’n distrikshof en meer ernstige sake word gewoonlik soontoe oorgeplaas.

Rodeom word daarvan beskuldig dat hy op 20 Desember 2020 by ’n stampvol tolhekplaza tussen stilstaande wagtende voertuie ingestap het, sy vuurwapen na bo gelig en verskeie skote afgevuur het.

Die Sinoville-polisie het beeldmateriaal van selfoonvideo’s van ander motoriste bekom. Dit toon hoe ’n man tussen die rye karre instap en in die lug in skiet.

Op ’n volgende video stap hy doodluiters na sy eie voertuig aan die kant van die pad, draai op sy hakke om en rig die wapen op mense in ’n ander voertuig wat hom uitgejou het.

Die skieter het later tussen die verkeer in verdwyn – totdat die polisie hom opgespoor het.

Die hof het tydens Rodeom se borgtogaansoek gehoor dat hy drie vorige veroordelings het wat spruit uit die 1990’s van onder meer dronkbestuur en roekelose bestuur.

Volgens hom het hy ’n “transportonderneming”.

Hy is sedertdien getroud en het elke keer op die betrokke hofdatums opgedaag.

Meer oor:  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.