Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Topregter josie in oor hof-skuif

Die regter-president van Mpumalanga het met ’n ondersoek begin na ’n besluit wat glo eensydig geneem is om die streekhof in Skukuza, waar hoëprofielsake oor veral renosterstropery aangehoor word, te skuif.

Regter-president Malesela Francis Legodi het Maandag gesê hy was nie bewus van die besluit om die hof na Mhala by Bosbokrand te skuif nie, maar het “toevallig” daarvan te hore gekom.

“As die besluit geneem is om die streekhof uit die wildtuin te skuif, is dit geneem sonder my insette daaroor,” het hy gister gesê.

Hy sê dit was nog altyd sy beleid dat sake verhoor moet word naby die blyplek van slagoffers.

Mhala is sowat 90 km van die Krugerwildtuin.

’n Verontwaardigde Legodi sê hy sal uitvind wie die besluit geneem het en optree. Hy sal ná die afhandeling van sy ondersoek ’n formele verklaring uitreik.

Ansie Venter, spesialisaanklaer in die streekhof in Skukuza, het Maandag gesê adv. Matric Luphondo, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het die streekhof opdrag gegee om voortaan alle sake na Mhala uit te stel.

Die besluit is ook deurgegee dat die streekhof op 3 Oktober sy deure finaal sluit.

Sy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Intussen het nieregeringsorganisasies ’n versoekskrif met griewe oor dié besluit opgestel en na pres. Cyril Ramaphosa se kantoor gestuur.

’n Bron, wat anoniem wil bly, sê as die streekhof Mhala toe sou skuif, sal dit geweldige ontwrigting vir die staat en getuies, asook groot uitgawes, meebring.

Natuurbewaarders wat in sake moet getuig en nie nou op getuiegeld aanspraak kan maak nie, sal die geld kan eis.

Luphondo sê hy weet nie waarom hy betrek word nie. “Ek is ’n gewone aanklaer wat nou by hierdie saak betrek word,” sê hy.

Hy het Netwerk24 na Legodi verwys.

Ike Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, sê hy was nie daarvan bewus dat ’n besluit geneem is om die streekhof na Mhala te skuif nie. Hy sê dit is vreemd omdat ’n tender reeds toegeken is om die hofgebou op te gradeer en te restoureer.

Meer oor:  Skukuza  |  Mpumalanga  |  Renosterstropery  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.