Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Topspeurder huil ná aanklag van strafbare manslag

’n Topspeurder van Kaapstad wat bekendheid verwerf het deurdat hy die vermoorde Matie-student Hannah Cornelius se moordenaars help vang het en ook Henri van Breda en Jason Rohde help vastrek het, het Maandag in trane uitgebars toe hy van strafbare manslag in die landdroshof in Franschhoek aangekla is.

Sers. Marlon Appollis (41) word daarvan aangekla dat hy Saterdagaand sers. David Hoffman (40), ’n kollega van hom in die polisie se bende-eenheid, by Hoffman se skoonfamilie se huis in Skoolstraat, Franschhoek, doodgeskiet het.

Hoffman is noodlottig in die kop gewond ná wat die onafhanklike klagtedirektoraat as ’n onderonsie beskryf. Appollis is ná die skietery in hegtenis geneem.

Appollis het Maandag verslae in die beskuldigdebank gelyk.

Sers. Marlon Appollis (41) is Maandag op borgtog vrygelaat. Hy word daarvan aangekla dat hy Saterdagaand sy kollega sers. David Hoffman in Franschhoek doodgeskiet het. Foto: Jaco Marais

Hoffman se vrou, Ashley Camelita, het die hof gevra dat geen foto’s van Appollis in die hof geneem word nie sodat sy familie beskerm kan word.

Dit kom nadat Netwerk24 toestemming gevra het om foto’s van Appollis te mag neem.

Die staatsaanklaer, Nico Bruiners, asook Appollis self, het beswaar gemaak teen dié aansoek.

Die staat wou nie hê dat foto’s van Appollis in die hof geneem word nie omdat hy sake ondersoek wat met bendegeweld verband hou. Appollis het aangevoer dit kan sy lewe en dié van sy gesin in die gevaar stel.

Sers. Marlon Appollis Maandag in die landdroshof in Franschhoek. Foto: Jaco Marais

In die beskuldigdebank het Appollis sy kop laat sak en gesnik toe sy kollega se vrou ook vra dat die media se aansoek verwerp word.

“Ek het aanvanklik nie ’n mening gehad nie, maar nadat ek mnr. Appollis se verduideliking gehoor het, voel ek dat ek nie wil deel wees daarvan dat sy vrou en kinders se lewe in gevaar gestel word nie,” het sy gesê.

Sy sê sy moes al hul familiefoto’s van Facebook verwyder toe haar man hom by die bende-eenheid aangesluit het.

“Ek ken sy kinders. Ek wil nie die rede wees hoekom sy en sy gesin se lewe in gevaar is nie,” het sy gesê.

Appollis se trane het hierop vryelik begin vloei.

Volgens Appollis is die sake wat hy by die bende-eenheid hanteer baie sensitief. As sy identiteit bekend is, kan dit sy gesin se lewe, asook sy eie, in gevaar stel.

Appollis het gesê hy het ’n vriend verloor en wil nie hê die saak moet in ’n “media-waansin” ontaard nie.

Landdros Nokuthula Phiti het egter Netwerk24 se aansoek toegestaan.

Die hof het gehoor die senior staatsaanklaer meen ’n klag van strafbare manslag is gepas nadat hy die polisiedossier onder oë gehad het.

“Die nasionale vervolgingsgesag sal finaal besluit of Appollis van strafbare manslag of moord aangekla moet word,” het Bruiners gesê.

Appollis het gesê hy sal sy eie regspan aanstel.

Ashley Camelita Hoffman (links), vrou van sers. David Hoffman wat Saterdagaand in ’n skietvoorval dood is, verlaat Maandag die landdroshof in Franschhoek. Foto: Jaco Marais

Die saak is tot 26 September uitgestel vir die direkteur van openbare vervolgings om finaal oor die aanklagte teen Appollis te besluit.

Appollis is op borgtog van R1 000 vrygelaat en het saam met van sy kollegas van die hof af weggery.

Familie en vriende in die openbare galery was in twee geskeur. Sommige wou Appollis sien boet en ander het simpatie met hom gehad.

“Ons weet nie wat gebeur het nie, maar ons rou, ons het ’n geliefde familielid verloor en ons sal hom nooit weer terugkry nie,” het ’n familielid gesê.

Ander het in die hof gefluister “hoekom wil hy nie foto’s hê nie, hy moenie nou wil wegkruip van wat hy gedoen het nie”.

Veral vir die lede van die bende-eenheid was dit ’n bittere dag. Hulle het vir sowel Appollis as Hoffman se familie kom ondersteun.

Meer oor:  Franschhoek  |  Speurder  |  Misdaad  |  Doodgeskiet  |  Kollega  |  Strafbare Manslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.