Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Trane het uit Xander se oë gerol, wou hart skoon kry’
Xander Bylsma Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Felix Dlangamandla

Trane het uit Xander Bylsma (20) se oë bly rol en hy het sy hande senuagtig teen mekaar gevryf in ’n onderhoud met ’n polisiekolonel voordat hy uitwysings gedoen het.

Hy het die dag tevore aan ’n polisiekaptein gesê hy wil ’n bekentenis aflê “om sy hart skoon te kry”, is Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, getuig waar Bylsma se moordverhoor hervat het. Dit was ook sy 20ste verjaardag.

Bylsma het vermoedelik tydens die bekentenis en uitwysings sekere erkennings gemaak oor die moorde op Sharnelle Hough (17), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Hy het die bekentenis afgelê ure nadat die boesemvriendinne se lyke op 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella gevind is. Bylsma het die volgende dag ook uitwysings in kol. Dawie Lange se teenwoordigheid gedoen.

Die inhoud van die bekentenis en uitwysings is nog nie bekend nie, omdat ’n binneverhoor nou gehou word om die toelaatbaarheid daarvan te bepaal.

Bylsma ontken nou skuld. Hy beweer hy is voorgesê en gedreig om ’n bekentenis af te lê terwyl hy onder die invloed van angsmedikasie was, en dat sy regte nie aan hom voorgehou is nie.

Só het hulle gesterf

Dr. Tromp Els, staatspatoloog wat die lykskouings op Sharnelle en Marna gedoen het, het vroeër getuig albei is weens verwurging dood. Hul ander beserings buiten die wurgmerke aan hul nek, dui daarop dat hulle waarskynlik aangeval is.

Els meen die beserings aan al vyf vingers van Sharnelle se regterhand dui daarop dat sy verbete geveg het – hetsy teen ’n aanvaller, of om die nylontou waaraan sy opgehang is, van haar nek los te kry.

Marna is met die lus van ’n drasak verwurg.

In ’n bandopname wat vroeër in die hof gespeel is, kon gehoor word hoe Bylsma teenoor Chris Saunders, ’n privaatspeurder, erken hy het Sharnelle aan ’n trapreling opgehang nadat hy haar bewusteloos gewurg het. Hy beweer egter hy het haar net gehelp om haar eie lewe pynloos te neem. Dit is nie duidelik hoe hy Marna se dood verklaar nie.

Die uitslag van DNS-ontledings word nog ingewag.

Bylsma se regspan het Lange Maandag oor die uitwysings kruisondervra. Niven Rai, Bylsma se advokaat, het Lange daarvan beskuldig dat hy 32 uit die 35 vrae in die uitwysingsvorm nie aan Bylsma gestel het nie.

Bylsma beweer onder meer Lange het aan die einde van die onderhoud nie weer vir hom gevra of hy steeds met die uitwysings wou voortgaan nie.

“Hy sou nie voortgegaan het as u hom (toe) gevra het nie,” het Rai aangevoer.

“Ek verskil, hy het deurgaans sy samewerking gegee,” het Lange geantwoord.

Rai het Lange, wat 30 jaar ervaring het, daarvan beskuldig dat hy van die vrae (in die Engelse uitwysingsvorm) nie reg verstaan het nie. “U uitspraak van die woord ‘unduly’ was nie reg nie. Daaruit lei ek af u verstaan dit nie,” het Rai aan Lange gesê nadat hy hom daarvan beskuldig het dat hy nooit vir Bylsma gevra het of hy onbehoorlik beïnvloed is nie.

Lange het die vrae in Afrikaans aan Bylsma gestel en hy het in Afrikaans geantwoord, het Lange getuig. Volgens hom het hy al die vrae aan Bylsma gestel, insluitende of hy beïnvloed is.

Marna EngelbrechtFoto: Verskaf
Sharnelle HoughFoto: Verskaf

“Hy het nee gesê. Ek het hom verduidelik wat uitwysings behels en dat hy ’n prokureur teenwoordig mag hê. Ek het al die vrae weer met hom deurgegaan nadat hy die uitwysings gedoen het.”

Adv. Johan Smit SC, staatsaanklaer, het vir Lange gevra of dit moontlik is dat hy meer as 90% van die vrae in die uitwysingsvorm nie aan Bylsma gestel het nie. “Nee,” het Lange geantwoord.

Kapt. Samuel Paul, wat op 26 Mei 2018 ’n onderhoud met Bylsma gevoer het voordat hy die bekentenis afgelê het, het getuig hy het dit stopgesit toe hy besef die onderhoud stuur op ’n bekentenis af. Hy het kol. Corrie Kochlan laat kom om die bekentenis af te neem.

“Ek het die verdagte ingelig dat hy nie verplig is om ’n bekentenis af te lê nie, mag swyg en ’n prokureur en sy ouers teenwoordig mag hê,” het Paul Maandag getuig.

“Hy het dit van die hand gewys en gesê hy wil sy hart skoon kry. Dit het nie gelyk of hy onder die invloed van iets was nie. Hy het nie na drank geruik nie en soos ’n normale mens gepraat.”

Kol. Dawie Lange praat Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho met adv. Johan Smit SC, die staatsadvokaat.Foto: Felix Dlangmandla
Kapt. Samuel Paul het getuig hy het al Bylsma se regte aan hom voorgehou voordat hy ’n bekentenis afgelê het.Foto: Felix Dlangamandla

Bylsma beweer egter Paul het nie sy regte aan hom voorgehou nie. Rai het aangevoer Bylsma het nie na drank geruik nie, omdat hy onder die invloed van medikasie was, en dat hy sy ouers ter wille van hul veiligheid nie teenwoordig wou hê nie.

Bylsma beweer Chris Saunders, ’n private speurder, teenoor wie hy glo gebieg het, het hom voorgesê en gedreig om sy ouers te laat vermoor indien hy nie skuld beken nie. Saunders ontken dit.

Die binneverhoor duur Dinsdag voort. Bylsma gaan na verwagting getuig.

Xander Bylsma se ma, Mercia, omhels hom Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Felix Dlangamandla
Xander Bylsma se pa, Monté, omhels hom Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Felix Dlangamandla
Xander Bylsma praat Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho met sy ouers, Mercia en Monté Bylsma. Hy het Maandag 20 jaar oud geword.Foto: Felix Dlangamandla.
Xander Bylsma Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, op sy 20ste verjaardag. In die voorste ry agter hom sit Sharnelle Hough se stiefma, Anna Hough (links), en ’n skoolvriendin van Sharnelle en Marna Engelbrecht. Heel agter sit Marna se ouers, Stefaans en Rianet, met hul ander dogter, Riané, tussen hulle. Foto: Felix Dlangamandla.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.