Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Trane vloei nadat Coligny-2 borgtog kry

“Trane van blydskap het gevloei, dit was so ’n swaar ding wat die heeltyd op my gemoed gedruk het.”

Pieter Karsten, Pieter Doorewaard se oom, se trane het Vrydag in die hooggeregshof in Mmabatho gevloei toe borgtog aan Doorewaard en Phillip Schutte toegestaan is. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/AfriForum

So het Pieter Karsten, Pieter Doorewaard (28) se oom, Vrydagoggend gesê nadat Doorewaard en Phillip Schutte (35) in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, op borgtog vrygelaat is. Regter Ronald Hendricks het die borgtog op R20 000 elk vasgestel.

Doorewaard en Schutte was die afgelope 13 maande in aanhouding nadat Hendricks hulle in Oktober verlede jaar skuldig bevind het aan die moord op Matlhomola Moshoeu (15). Doorewaard is effektief tot 18 jaar tronkstraf, en Schutte tot 23 jaar gevonnis.

Hendricks het hul weergawe verwerp dat Matlhomola self in April 2017 van hul bakkie op ’n plaas naby Coligny geval of gespring het. Hy het ook verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis geweier, maar die appèlhof in Bloemfontein het hulle daarna verlof gegee om te appelleer. Die twee mans het verlede week aansoek om borgtog gedoen hangende die uitslag van hul appèl. Hendricks het uitspraak tot Vrydag voorbehou.

Karsten het ná die uitspraak gesê dit is “die beste nuus ooit” dat hulle borgtog gekry het. Hy was die enigste van die mans se families by die hof. Doorewaard en Schutte was ook nie self in die hof nie. Hulle sou na verwagting eers later Vrydagmiddag uit die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng vrygelaat word nadat die papierwerk afgehandel is.

AfriForum het die mans se regspan, insluitend adv. Barry Roux, bygestaan in die borgtog- en appèlaansoek. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ná die uitspraak Vrydag gesê die mans was “13 maande te lank in die tronk”.

Pieter Karsten (links), Pieter Doorewaard se oom, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Vrydag in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/AfriForum
Van links is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Pieter Karsten (Pieter Doorewaard se oom), Geyer Labuschagne en Frik van Tonder (deel van die mans se regspan), asook ds. Tewie Pieters en ds. Vollie Gilfillan van Coligny. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/AfriForum
Adv. Barry Roux praat verlede week met Phillip Schutte (links) en Pieter Doorewaard in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Susan Cilliers

“Ons is verheug hulle is nou vrygelaat en glo hulle het ’n sterk appèlsaak oor hul onskuld. AfriForum sal voortgaan om hulle in die proses by te staan en die koste te dra.”

Ds. Tewie Pieters, ’n NG kerk-predikant in Coligny wat die mans en hul families bystaan, het ook die verrigtinge Vrydag bygewoon. “Hul vrylating op borgtog is ’n groot oorwinning. Die mans se aanhouding was ’n toets vir bid, glo en in die Here vertrou. Die saak het só ook ’n geestelike dimensie van volharding in gebed gekry. Hul borgtog is ’n ongelooflike uitkoms.”

Pieters glo in die mans se onskuld.

Elize van den Berg, Doorewaard se vriendin met wie hy trouplanne het, het verlede week gesê hulle is hoopvol dat die mans borgtog toegestaan sal word en dat hulle Kersfees tuis sal wees. Ingelize Schutte, Schutte se vrou, was minder optimisties dat borgtog toegestaan sou word. Sy het gesê haar man verlang baie na hul kinders (wat tussen twee en agt jaar oud is). “Ek sê maar vir hulle hul pappa werk.”

Van den Berg en Ingelize kon teen vroegmiddag nie vir kommentaar bereik word nie.

* Frik van Tonder, die mans se prokureur, het Vrydagmiddag bevestig hulle is reeds uit die Rooigrond-gevangenis vrygelaat en op pad na hul onderskeie families. “Hulle is uiteraard baie bly.” Hulle en hul families kon teen Vrydagmiddag nie vir kommentaar bereik word nie.

Pieter en Phillip op pad huis toe. Pieter se oom, Pieter Karsten, bestuur.

Roux, wat vir Doorewaard en Schutte optree, het verlede week tydens die borgtogaansoek daarop gewys dat twee regters in die appèlhof meen ’n ander hof kan moontlik bevind die enigste ooggetuie in die saak se getuienis het tekort geskiet.

Dis ook om dié rede dat die appèlhof hul aansoek om verlof tot appèl toegestaan het. Hendricks het in sy skuldigbevinding destyds sterk gesteun op Bonakele Pakisi se getuienis dat hy gesien het hoe Schutte vir Matlhomola meer as een keer van die bakkie gooi.

Hendricks het bevind Schutte en Doorewaard het met ’n gemeenskaplike oogmerk opgetree.

Pakisi het egter, nadat die verhoor afgehandel is, gesê hy het in die hof gejok, maar later weer beweer hy is betaal om dit te sê. Roux het verlede week aangevoer indien daar ’n redelike kans is dat ’n ander hof Pakisi se getuienis kan verwerp, die mans moontlik ook onskuldig bevind kan word aan die moord en op die ander aanklagte.


Meer oor:  Pieter Doorewaard  |  Phillip Schutte  |  Pieter Karsten  |  Mmabatho  |  Noordwes  |  Coligny-2  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.