Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Transkripsies vertraag vonnis van modelbaas
Dawie de Villiers buite die hooggeregshof in Johannesburg.Foto: Jeanelle Greyling

Die modelbaas Dawie de Villiers (37), wat in Februarie in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind is op 26 aanklagte van onder meer verkragting, se vonnisoplegging is tot middel Junie uitgestel sodat al die partye die volledige transkripsies kan bekom.

De Villiers se slagoffers was meestal minderjarige meisies wie se modelloopbane hy bestuur het.

Regter Cassim Moosa het Donderdag gesê dit is “ ’n dringende saak” dat die transkripsies binne twee weke uitgereik word.

Moosa het aan ’n hofbeampte wat verantwoordelik is vir die transkripsies gevra waarom sekere dae van die verrigtinge nie getranskribeer is nie.

Transkripsies van onder meer die verdediging se hele saak ontbreek, het Moosa gesê.

Die hofbeampte het gesê hulle sukkel om die klankopnames te bekom wat in die rondgaande hof in Palm Ridge opgeneem is.

Moosa het daarna beveel dat al die partye die volledige transkripsies teen 9 Junie kry.

Hulle sal dan op 12 Junie weer in die hof verskyn om aan te dui of die saak kan voortgaan.

Dit het gevolg nadat onenigheid Woensdag tussen die staatsaanklaer, adv. Arveena Persad, en De Villiers se nuwe regsverteenwoordiger, adv. Riaan Greyling van die Regshulpraad, ontstaan het.

Greyling het gesê hy het transkripsies van die verrigtinge nodig sodat hy sy kliënt behoorlik kan verteenwoordig.

“My kliënt het ook aangedui dat hy aansoek wil doen om te appelleer en ons gaan die transkripsies ook daarvoor nodig hê,” het Greyling gesê.

Persad het gesê dié versoek is ’n “uitsteltegniek” omdat De Villiers sy inhegtenisneming probeer uitstel.

Persad het ook Woensdag gevra dat De Villiers se borgtog teruggetrek word omdat ’n beskuldigde se borgtog slegs geldig is tot hy skuldig bevind word.

“Die beskuldigde het oor ’n lang tydperk diverse misdade gepleeg wat meestal kinders insluit,” het Persad gesê.

“Daar is geen rede dat sy borgtog verleng word nie.”

Greyling het gesê dit sal onregverdig wees as sy kliënt se borgtog teruggetrek word omdat hy tydens die verrigtinge die afgelope twee jaar niks verkeerd gedoen het om so ’n besluit te regverdig nie.

De Villiers se borgtog is weer verleng.

De Villiers is skuldig bevind op die volgende aanklagte:

* Een aanklag van verkragting van ’n minderjarige;

* Een aanklag omdat hy ’n kind gedwing het om haarself onsedelik aan te raak;

* Twee aanklagte van die blootstelling van ’n kind aan pornografie;

* Vyf aanklagte van seksuele aanranding;

* Een aanklag van seksuele gereedmaking;

* Agt aanklagte van bedrog; en

* Agt aanklagte van die besit van kinderpornografie.

Meer oor:  Dawie De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.