Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Trevor Manuel se seun getuig in moordverhoor

Pallo Manuel, seun van die voormalige minister van finansies Trevor Manuel, het op 31 Desember 2013 probeer om die lewe van Sirusha Chauhan (21) te help red nadat sy by ’n ravepartytjie stuipe begin kry het.

Manuel het Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad in die moordsaak teen Taariq Phillips getuig.

Phillips staan tereg op aanklagte van verkragting en moord.

Pallo Manuel staan agter in die getuiebank met die beskuldigde, Taariq Phillips, in die getuiebank. Foto: Verskaf

Die staat voer aan Phillips het Chauhan verkrag en verwurg. Hy het skuld ontken.

Phillips en Chauhan was drie jaar lank ’n paartjie en het op die betrokke dag ’n ravepartytjie op die Le Bac-landgoed in die Paarl bygewoon. Hulle het saam met vriende in tente op die landgoed gebly.

Luidens die klagstaat het hulle deur die loop van die aand dwelms gebruik en gaan dans. Kort hierna het Chauhan begin sleg voel en sy en Phillips is terug na hul tent. Sowat ’n uur daarna het Phillips glo om hulp geskreeu en Chauhan is kaal in die tent gesien. Dit het gelyk asof sy ’n aanval kry. Phillips was te alle tye saam met Chauhan.

Nooddiensbeamptes het Chauhan behandel en haar na die Mediclinic Paarl geneem. Sy is die volgende dag in die hospitaal dood. Daar is aanvanklik vermoed sy is aan ’n oordosis dwelms dood, maar ’n lykskouing het getoon sy is vermoor.

Manuel het gesê hy en die paartjie was meer kennisse as vriende en dat hul tente langs mekaar opgeslaan is.

Hierna het hy gaan rondloop om te sien hoe die partytjie lyk.

Manuel het erken hy het sowat vier of vyf dubbel brandewyn-en-Coke gedrink, maar dat hy nie dronk was nie. Hy het getuig nie hy of enige van sy vriende het dwelms die aand gebruik nie.

Hulle het gaan dans en net ná Nuwejaar, het hy teruggekeer na sy tent om skoon klere aan te trek omdat hy “nat en sweterig” was.

Pallo Manuel, wat 2,03 m lank is, het Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad teen Taariq Phillips getuig. Foto: Verskaf

“By die tent het ek geluide gehoor wat geklink het soos mense wat seks gehad het, hygende geluide. Ek het geweet dit het van Phillips se tent gekom omdat dit langs my tent was,” het hy gesê.

Manuel was sowat 10 minute daar en het toe teruggekeer na die dansvloer toe. Teen daardie tyd het hy steeds die hygende geluide van ’n man en vrou gehoor. Dit was egter donker en Phillips se tent was toe so hy kon nie sien wie binne die tent was nie.

Sowat ’n uur later het ’n ander vriend hom gebel en gevra hy moet terugkom na die tent toe.

Manuel was in daardie stadium ’n student aan die Universiteit van die Wes-Kaap en het sportwetenskap studeer. As deel van die graad moes hy ’n nooddienskursus doen. Hy het by die tent gekom en gesien hoe nooddiensbeamptes in Phillips se tent vir Chauhan behandel.

Volgens Manuel het sy stuipe gehad. Hy het na die nooddienstent, wat sowat 150 m weg was, gegaan om nog hulp te kry.

Hy is terug na die tent en het gehelp om Chauhan op ’n draagbaar te tel en na die nooddienstent te dra. Hier het Chauhan steeds stuipe gehad en personeel het gesukkel om ’n aar te vind sodat hulle haar medisyne kon gee.

Daarna het ’n ambulans opgedaag en Chauhan na die hospitaal geneem. Sy is later dood verklaar. Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.