Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Trillian: Besware 'op fiktiewe feite gegrond'

’n Volbank regters van die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag beslis dat Trillian Management Consulting (TMC) die “onwettige en ongeldige” betalings van bykans R600 miljoen met rente aan Eskom moet terugbetaal.

“Die nuwe dag wat in 2018 vir Suid-Afrika aangebreek het, het ’n positiewe invloed op die staatsbeheerde kragverskaffer gehad,” het regters Selby Baqwa, Moara Tsoka en Dawie Fourie tydens hul beslissing gesê.

Eskom se nuwe bestuurspan het die hof genader en erken sy besluite in 2015 het daartoe gelei dat hy meer as R1,8 miljard onwettig aan die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey and Company Africa en dié se subkontrakteur TMC betaal het.

Trillian Capital en sy filiaal TMC het in 2015 en 2016 vir die Amerikaanse maatskappy McKinsey as “swartbemagtigings-ontwikkelingsvennoot” opgetree, en is R595 228 913 deur Eskom betaal vir “dienste gelewer ten opsigte van twee kontrakte vir ’n regrukstrategie”.

Trillian het die aansoek teengestaan en gesê hy is bloot deur McKinsey gesubkontrakteer en was derhalwe geregtig op die betaling.

McKinsey het bewyse in die hof gelewer dat daar ’n kontrak tussen hom en Trillian beding is.

Trillian Holdings is in 2015 gestig en Salim Essa – wat bande met die Guptas het – was die enigste direkteur.

Trillian Holdings het 60% van die aandele in Trillian Capital Partners, wat 100% van die aandele in TMC hou.

Die maatskappy het ontstaan toe Brian Molefe en Anoj Singh by Transnet bedank en senior uitvoerende poste by Eskom aanvaar het.

“Dat hierdie gebeure plaasgevind het met die uitsluitlike doel om Trillian te bevoordeel – en moontlik bedrieglik was – is duidelik,” het die regters gesê.

Daar was volgens die regters duidelike tekens van korrupsie tydens die onderhandelings, soos die duur reise vir Eskom se senior amptenare Matshela Koko en Singh waarvoor Eskom betaal het.

Reise na Dubai is deur Essa en Sahara, ’n Gupta-beheerde maatskappy, vir hulle gereël.

Trillian het in die hof aangevoer dat ’n saak van korrupsie teen sy kliënte op “gebrekkige getuienis” berus en dat hulle daarop geregtig is om dit deur kruisondervraging te toets.

Die regters het egter bevind dat daar ná ’n objektiewe evaluering van Eskom en Trillian se getuienis geen ander gevolgtrekking gemaak kan word as dat Trillian se besware gegrond is op fiktiewe feite wat net daarop gemik is om die verhoor te vertraag en Eskom verder te benadeel nie.

McKinsey het in Maart 2016 Eskom skriftelik in kennis gestel dat hy geen kontrak met Trillian aangegaan het nie omdat die maatskappy nie ’n omsigtigheidsondersoek geslaag het nie.

Ondanks hiervan het Eskom betalings van R1,8 miljard in skadevergoeding gemaak om van die kontrak ontslae te raak.

McKinsey is genoop om sy deel – R1 miljard – terug te betaal weens bewerings dat die omstrede Gupta-familie hul vriendskap met oudpres. Jacob Zuma misbruik het om lonende kontrakte met staatsbeheerde maatskappe, soos Eskom, te bekom.

McKinsey het net voor die Trillian-hofsaak ’n skikkingsooreenkoms met Eskom bereik.

Trillian moet Eskom se geld met rente, bereken vanaf die vonnisdatum tot die betaaldatum, terugbetaal asook Eskom se regskoste.

Meer oor:  Eskom  |  Pretoria  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.