Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Trollip en die ‘omkoopgeld’: Vrou getuig

Met ’n geldsak op die motor se paneelbord en voornemens om van ander DA-raadslede ontslae te raak, het Athol Trollip, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, haar probeer omkoop.

Dit was Donderdag die weergawe van Nontuthuzelo Jack (50), ’n voormalige DA-aktivis, oor hoe Trollip haar na bewering in Maart 2016 probeer omkoop het.

Trollip het in 2016 ’n saak van crimen injuria teen Jack aanhangig gemaak nadat sy dié bewerings in ’n Engelse dagblad gemaak het.

Nontuthuzelo Jack, voormalige DA-aktivis, verlaat die landdroshof in Port Elizabeth. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die berig is gepubliseer in die aanloop tot die 2016-verkiesing terwyl Trollip ’n burgemeesterskandidaat vir die Nelson Mandelabaai-metro was.

Luidens die berig het Trollip haar gevra om onsmaaklike inligting oor Veliswa Mvenya, voormalige provinsiale voorsitter van die DA, op te diep.

Adv. Eric Skepe, Jack se regsverteenwoordiger, het Jack Donderdag as sy eerste getuie geroep.

Jack het getuig hoe Trollip haar op 20 Maart 2016 drie keer die oggend gebel het. Sy sê die oproepe was voor 07:00 en Trollip het gesê hy is in Motherwell en wil haar ontmoet.

Die ontmoeting het volgens Jack voor die Motherwell-polisiekantoor in Trollip se blou motor plaasgevind.

Sy sê Trollip het geld in ’n banksak uitgehaal en op die paneelbord neergesit. Aanvanklik het sy na R2 000 verwys, maar kort daarna na R3 000.

Jack sê tydens die ontmoeting het hulle oor ’n interne saak gepraat, waarin Trollip wou hê sy moet getuig. Sy het ook gesê sy was ontevrede oor die kandidatelys, waarna Trollip gesê het hy sal van (Xolile) Klaas, ’n DA-raadslid ten tyde van die beweerde voorval, Mvenya en ene Du Plessis ontslae raak, maar sy moet hom help.

Maar Jack beweer sy het Trollip gevloek, by sy motor uitgeklim en gesê, “ek kan nie die bloed van ander mense op my hande hê nie”.

Volgens Jack het sy toe vir Klaas probeer bel, maar daar was geen antwoord nie en hy het haar eers later daardie dag teruggebel en vir haar kom kuier.

Jack sê sy het die Daily Dispatch oor die voorval ingelig, want Trollip was die persoon by wie sulke optrede aangemeld moes word, en sy kon nie Trollip by homself verkla nie.

Kort nadat die berig gepubliseer is, het die DA ’n interne ondersoek gedoen en Jack het ’n verklaring aan James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, gegee. Nadat die interne ondersoek Trollip onskuldig bevind het, het Trollip ’n saak by die polisie aanhangig gemaak en Jack moes ’n verklaring by die polisie aflê.

Xolile Klaas, voormalige DA-raadslid, verlaat Donderdag die landdroshof in Port Elizabeth nadat hy getuig het. Foto: Cara-Lee Dorfling

Jomari du Toit, staatsaanklaer, het Donderdag aan Jack die verskil in tye uitgewys tussen haar getuienis en albei verklarings wat sy afgelê het.

Du Toit sê in albei verklarings het Jack gesê sy het om 07:00 en 09:00, voor die ontmoeting, oproepe van Trollip gekry, waarna hulle eers ná 09:00 ontmoet het.

Volgens Du Toit dui die selfoonrekords van sowel Trollip as Jack dat daar geen oproepe tussen hulle was op 20 Maart 2016 nie.

Du Toit het aan die hof gesê Jack se weergawe aan die hof is die eerste keer dat genoem word die ontmoeting was omstreeks 07:00.

Du Toit het aangevoer Jack het die tyd van hul ontmoeting verander nadat die staat foto’s van Trollip se besoek op 19 en 20 Maart 2016 in Port Alfred as bewysstukke ingehandig het.

Volgens Janine, Trollip se vrou, se getuienis was hulle daardie Saterdag by haar seun se kriekettoernooi en ná die krieket by ’n geselligheid. Die Sondag was hulle kort voor 09:00 by ’n kerk in Port Alfred.

Athol Trollip, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, staan Donderdag saam met sy vrou, Janine, buite die landdroshof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Du Toit sê ná vyf staatsgetuies het Jack ’n hele nuwe weergawe van die voorval aan die hof voorgelê.

Jack het Klaas by haar weergawe betrek omdat sy geweet het hy is die enigste persoon wat haar op 20 Maart gebel het, sê Du Toit.

Sy voer aan Jack se omkoop-storie was ’n poging om Trollip se reputasie in die DA te vernietig en so te voorkom dat hy burgemeester word.

Skepe het ook vir Klaas as getuie geroep. In sy kort getuienis het Klaas gesê hy het die DA in Julie 2016 verlaat.

Op 20 Maart 2016, sê Klaas, het hy ná 08:00 wakker geword en Jack se “bel my”-boodskappe gesien. Hy sê hulle het toe tussen 09:00 en 10:00 ontmoet en Jack het hom van die beweerde omkopery vertel.

Du Toit het egter na Jack se selfoonrekords verwys en gesê die eerste “bel my”-boodskap het Jack om 08:55 gestuur en Klaas het Jack eers om 09:30 gebel.

Klaas sê hy was in daardie stadium baie besig en kan nie al die tye presies onthou nie.

Die verhoor is tot 13 Augustus uitgestel wanneer Skepe sy volgende getuie sal roep.

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Nontuthuzelo Jack  |  Athol Trollip  |  Politiek  |  Da  |  Getuienis  |  Omkoopgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.