Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tronkstraf deel van ‘ontvoerders’ se ooreenkoms

’n Voormalige onderwyseres van Vanderbijlpark wat van die ontvoering van ’n sewejarige meisie aangekla word, sal direkte tronkstraf uitdien.

Tharina Human, wat glo die baasbrein agter die ontvoering was, het Dinsdag in die hooggeregshof in Palm Ridge, Johannesburg, aangedui sy sal ’n pleitooreenkoms met die staat aangaan.

Human en haar medebeskuldigdes, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi, word van ontvoering, poging tot ontvoering en poging tot afpersing aangekla.

Die meisie (toe ses) is op die oggend van 2 September verlede jaar by haar skool ontvoer toe haar ma haar afgelaai het.

Tharina Human staan en wag dat die hofverrigtinge begin. Foto: Arisa Janse van Rensburg

David Mey, Human se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê Human gaan kragtens art. 105 van die Strafproseswet skuldig pleit.

Mey het ná die verrigtinge aan Netwerk24 gesê die ooreenkoms is reeds voltooi en dat Human “direkte tronkstraf sal uitdien”.

Hy wou nie verder oor die ooreenkoms uitwei nie.

Luidens die klagstaat het Human in Augustus 2019 vir Nel gesê sy het finansiële probleme en dat sy iemand nodig het om haar te help met ’n ontvoering om op dié manier geld te maak.

Nel het toe volgens die staat vir Van Zyl gewerf om hulle te help.

Van Zyl en Molemohi het die oggend van die ontvoering na die meisie se skool gery en Molemohi het haar glo gegryp nadat haar ma haar afgelaai het, aldus die klagstaat.

Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi in die beskuldigdebank. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Die meisie is later, sonder dat ’n losprys betaal is, in die vroeë oggendure van 3 September alleen in die strate afgelaai. ’n Egpaar het haar gevind en na ’n polisiekantoor geneem waarna sy aan haar ouers terugbesorg is.

Stoffel Venter, Nel se regsverteenwoordiger, het aangedui sy kliënt gaan skuld beken kragtens art. 112 van die Strafproseswet.

Dr. Llewellyn Curlewis, ’n strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, verduidelik dat art. 105- en art. 112-pleitooreenkomste met ’n skulderkenning gepaard moet gaan.

“Art. 105 is ’n skriftelike en formele pleitooreenkoms tussen die aanklaer en die verdediging. Dis basies ’n kontrak wat tussen hulle gesluit word en bepaal ook die vonnisoplegging voordat dit na die regter toe gaan. Die regter kan dan daartoe instem, al dan nie.

“As hy nie instem nie, kan die partye weer vergader om ’n ooreenkoms te probeer bereik. Enige van die partye kan aan die ooreenkoms onttrek. ’n Verhoor sal dan voor ’n ander regter begin en ’n pleitooreenkoms sal nie weer toegestaan word nie,” sê Curlewis.

Hy verduidelik dan dat kragtens art. 112 het die regter wel die jurisdiksie om ’n vonnis op te lê.

Martin Botha, Van Zyl en Molemohi se regsverteenwoordiger, het aangedui dat hy meer tyd benodig om pleitonderhandelings met die staat af te handel.

Ons koester nie ’n wrok teenoor enige van hulle nie.

Regter Keitumetse Mogale het die saak tot Donderdag uitgestel vir die finalisering hiervan.

Nel is steeds op borgtog en Human, Van Zyl en Molemohi bly in aanhouding.

Die meisie se ouers, wat in Maart vanjaar geskei is, en haar oupa het ook die hofverrigtinge bygewoon.

Haar oupa sê hulle is tevrede met die terme van die pleitooreenkoms wat glo aan hulle bekend is.

“Ons koester nie ’n wrok teenoor enige van hulle nie. Trouens, my seun het vanoggend (Dinsdagoggend) lekker met Laetitia gestaan en gesels.

“Die reg sal sy gang gaan en ons sal sy uitspraak aanvaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.