Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Tronkstraf te erg, sal artse afskrik’

Die vyf jaar tronkstraf wat ’n ginekoloog moet uitdien nadat ’n pasiënt ná ’n bevalling dood is, gaan die krisis vererger van dokters wat eenvoudig nie meer kans sien om kraamgevalle te hanteer nie.

So waarsku ander ginekoloë nadat dr. Danie van der Walt, ’n ginekoloog van eMalahleni (Witbank), gehoor het sy appèl teen sy skuldigbevinding en vyf jaar tronkstraf het misluk.

Dr. Danie van der Walt Foto: Witbank News

Rapport verneem Van der Walt gaan ’n petisie aan die appèlhof rig om weer te appelleer. Hy is in 2016 skuldig bevind aan strafbare manslag nadat sy pasiënt Pamela Noni Daweti dood is.

Die hooggeregshof het nou ook beslis Van der Walt was grof nalatig en direkte tronkstraf is nie onvanpas, soos hy aanvoer, nie.

Van der Walt is in sy appèl bygestaan deur prominente strafregpraktisyns soos BDK-prokureurs wat onder andere Radovan Krejcir, Robert McBride en oudpres. Jacob Zuma se vrou wat verdink word van sy vergiftiging verteenwoordig het. Adv. Mike Hellens SC, wat onlangs vir Zuma en die Gupta-familie verteenwoordig het, was sy advokaat.

Die ginekoloog het in sy verhoor gesê hy het Daweti aangeraai om eerder ’n keisersnee te kry, maar haar ma het aangedring op ’n natuurlike geboorte.

Daweti het in die kraamproses erge skeure opgedoen en het begin bloei. Die skeure is nie voldoende geheg nie, het die hof beslis. Toe die hospitaal in die middernagtelike ure vir Van der Walt bel en sê Daweti bloei weer, het hy nie dadelik ingegaan hospitaal toe nie en slegs instruksies vir verpleegpersoneel gegee.

Prof. Leon Snyman van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskundiges en Ginekoloë het in reaksie op die uitspraak gesê dit gaan dokters nog meer onwillig maak om bevallings te doen.

“Ons gaan reeds gebuk onder die groot litigasie-las en nou word een van ons lede tronk toe gestuur vir ’n basiese menslike fout. Dis baie kommerwekkend vir ons vereniging dat ’n dokter krimineel vervolg kan word as gevolg van nalatigheid.”

Van der Walt is sover bekend die eerste dokter wat direkte tronkstraf opgelê is weens nalatigheid met behandeling.

Dr. Deon Kotzé, ’n narkotiseur van die Vaaldriehoek, is in 2017 vier jaar opgeskorte tronkstraf opgelê weens die dood van Juandré Bennett (2) tydens sy mangeloperasie. Hy moes ook 18 maande gemeenskapsdiens in ’n provinsiale hospitaal doen.

Snyman sê daar is reeds ’n ernstige tekort aan ginekoloë wat verloskunde doen omdat hul versekeringspremies vir siviele eise hemelhoog is.

“Dit kos tans gemiddeld meer as R1 miljoen per jaar vir versekering,” sê hy.

Volgens dr. Deon van der Merwe, ’n ginekoloog by die Life Midmed-hospitaal in Middelburg, Mpumalanga, is die vonnis van sy kollega die laaste strooi wat die kameel se rug kan breek.

“Die bevinding en vonnis is belaglik en gaan net dien as ’n katalisator vir nog ginekoloë om nie meer bevallings te hanteer nie.”

Meer oor:  Dokters  |  Strafbare Manslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.