Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tshwane-metro dok op ná kind se dood

Die Tshwane-metroraad gaan R700 000 in skadevergoeding betaal aan die gesin van Fanie Baloyi (11), een van vyf kinders wat dood is toe spreiligte op 4 November 2017 in Soshanguve, noord van Pretoria, op hulle neergestort het.

Die gemeenskap het blomme en kerse geplaas op die toneel waar vyf kinders deur spreiligte doodgeval is. Foto: Deaan Vivier

Georghinah Baloyi (46) het die Saterdag op haar kind se lyk afgekom. Die Tshwane-metroraad, wat verantwoordelik was vir die instandhouding van dié spreiligte, het ingestem om die Baloyi-gesin vir emosionele pyn te vergoed, maar weier om aanspreeklikheid vir die voorval te aanvaar.

Die metro betaal dit “suiwer” om die hofsaak, wat Baloyi en haar twee dogters, Pego (24) en Puseletso (18), teen hom ingestel het te skik, lui die hofbevel oor die saak. Fanie se susters kry elk R200 000 en hul ma R300 000. Die uitbetalings moet binne drie weke gedoen word.

JP Rudd van die regsfirma Adams & Adams tree namens die Baloyis op. Hy sê dis ’n buitengewone bedrag wat aan die gesin toegestaan is. Volgens Rudd het die gemeenskap destyds oor ’n tydperk van vier of vyf jaar onder meer op Twitter gekla oor die stukkende lamppaal in Blok X in Soshanguve.

Fanie Baloyi (11)

Die metro het dit laat regmaak, maar die kontrakteurs het glo nie die werk behoorlik gedoen nie. “Die ligte was op genade aan die paal. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat iets sou gebeur.”

Fanie en sy maats het op die dag van hul dood vermoedelik onder die paal gaan sit om ’n skadukol op te soek. Die ligte het losgekom en hulle doodgeval.

Rudd sê die skadevergoedings­eise van die ander kinders se gesinne is nog hangend.

Baloyi het in hofstukke gesê Tshwane het ’n grondwetlike plig om ’n veilige en gesonde omgewing vir inwoners te bevorder. Die metro moes byvoorbeeld die terrein onder die paal afgesper het tot die ligte behoorlik reggemaak is. Volgens die hofstukke was daar verskeie probleme met die struktuur, waaronder skade aan die toegangsdeur in die paal en aan ’n kabel. ’n Ketting, bout en moer waarmee die kabel gesluit moes word, was weg. Dít het veroorsaak dat die ring waaraan die ligte was, losgekom en geval het. Die metro het die skuld op vandalisme deur “onbekende derde partye” geplaas.

Volgens die hofstukke het Paul Mashatile, destyds Gautengse LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings, gesê hy het verneem ’n “diensverskaffer wat deur Tshwane aangestel is om die probleem reg te maak, het knoeiwerk gedoen”.

Baloyi het gesê haar kind is dood omdat die metro “blatant en grof nalatig” was. Die Tshwane-metro het in sy verweerskrif gesê sy beheer en verantwoordelikheid vir die konstruksie, instandhouding en veiligheid van die paal is beperk deur die beskikbaarheid van geld en mannekrag. Sy grondwetlike pligte kan dus deur sy beskikbare hulpbronne beperk word.

Die metro het nalatigheid ontken en gesê Baloyi moes liewer “daarvan bewus gewees het dat die spreiligte ’n gevaarlike struktuur is” en dat sy haar sorgplig teenoor Fanie versaak het. Die metroraad het wel vir die kinders se begrafnisse betaal.

Baloyi het gesê verskeie politici en verteenwoordigers van Tshwane, waaronder die burgemeester, het die ongelukstoneel besoek en het probeer om die gesin by die huis te besoek. “Maar weens die trauma kon ek nie onmiddellik tyd inruim vir hul besoek nie.”

Meer oor:  Tragedie  |  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.