Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tulbagh-moord: Net 1 van 4 vra borgtog
Justin Adonis en Andrew Gouws (albei 30) by hul eerste hofverskyning. Foto: Jaco Marais

Net een van die vier mense wat aangekla word van die moord op dr. Roelof Botha van Tulbagh het Dinsdag om borgtog aansoek gedoen.

Die 17-jarige meisie wat aangekla word, het aangedui dat sy borgtog wil hê. Haar naam mag nie genoem word nie omdat sy minderjarig is.

Aiden Abels (27) wat volgens die staat ’n bekentenis afgelê het.Foto: Jaco Marais
Dr. Roelof Botha en sy vrou, Lorette. Foto: Facebook/I Love Tulbagh

Die ander drie beskuldigdes, Aiden Abels (27), Justin Adonis en Andrew Gouws (albei 30), het by monde van hul regsverteenwoordiger, Chris Byleveld, gesê hulle wil nie om borgtog aansoek doen nie.

Voorheen is berig Abels het ’n bekentenis afgelê, maar meer besonderhede daaroor is nog nie bekend nie.

Die staat het aangedui dat die saak na ’n advokaat van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwys is, wat sal besluit of die saak na ’n streekhof of na die hooggeregshof verwys moet word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede sal by die vier se volgende verskyning by die moordklag gevoeg word.

Volgens die staat kan spesifiek die minderjarige met die diefstalklag verbind word.

Die advokaat sal ook besluit of die moordklag na moord met voorbedagte rade moet verander.

Botha se lyk is op 1 Junie omstreeks 18:30 langs die Schalkenbosch-pad buite Tulbagh gevind nadat hy met ’n skerp voorwerp, vermoedelik die lem van ’n skaapskêr, doodgesteek is.

Botha se gedenkdiens was Vrydag en mense het ’n erewag van byna ’n kilometer in die strate van die dorp gevorm.

Lorè, Botha se dogter, wat by die vier se vorige verskyning was, was Dinsdag nie in die hof nie. Een familielid of vriend van elke beskuldigde is in die hof toegelaat.

Gedurende sy verskyning het Abels gedurig omgedraai en vir ’n vrou in die hof beduie om vir hom sekere skoene te bring. Hy het die wit paar tekkies wat hy aangehad het, uitgetrek en daarna gewys.

Op elke woord van landdros Pieter Klazen het Gouws sy kop instemmend geknik. Klazen het vir die beskuldigdes verduidelik dat hulle deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar word indien die staat die moordklag na ’n klag van moord met voorbedagte rade verander en hulle skuldig bevind word.

Die vonnis kan in die streekhof of in die hooggeregshof opgelê word, maar nie in die landdroshof in Tulbagh nie.

“As die klag net moord bly en julle word skuldig bevind, sal dit ’n minimum van 15 jaar (tronkstraf) wees indien dit die eerste moordklag is waarop julle skuldig bevind word,” het Klazen gesê.

“Die 15 jaar vermeerder tot 20 jaar indien dit jou tweede moordklag is, en dit word 25 jaar minimum as dit jou derde moordklag is.”

Hy het ook gesê dat hulle in enige stadium gedurende hul verhoor aansoek om borgtog kan doen.

Die minderjarige se borgtogaansoek word op 24 Junie aangehoor, terwyl sy en die ander drie verdagtes weer op 28 Julie in die hof moet verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek omdat die lykskouingsverslag en ander verklarings nog uitstaande is.

Meer oor:  Roelof Botha  |  Tulbagh  |  Dokter  |  Borgtog  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.