Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Twee vas oor drie bejaardes se moord

Twee inwoners van die Munsieville-plakkerskamp naby Krugersdorp word aangekla van drie moorde op bejaarde vroue in aftreeoorde in Mpumalanga en Gauteng.

Shaun Oosthuizen en John du Plooy van die Munsieville-plakkerskamp naby Krugersdorp in die hooggeregshof in Alberton. Foto: Elizabeth Sejake

Op 24 Junie 2018 is die 86-jarige Engela van Wyk beroof en versmoor in die Rus-’n-bietjie-tehuis in Springs.

Twee weke later is Hetta Potgieter (85) beroof en vermoor in die Macadamia-versorgingsoord in Mbombela.

En verlede week het John du Plooy (27) en Shaun Oosthuizen (39) ook in die hooggeregshof in Alberton verskyn op aanklag van die moord op Barbara Fenton (74).

Sy het op 1 September verlede jaar in Edenvale saam met drie generasies van haar familie middagete gaan eet.

Haar moord was die sleutel tot die twee monsters se arrestasie.

Ure daarna is sy in haar aftreehuisie in die Alberton Village-kompleks oorval, beroof en vermoor.

Debra Magid (55), Gwen Singleton (53) en Carmen da Silva (49) is steeds verslae oor hul ma se dood.

“Lentedag was altyd haar gunsteling-dag van die jaar. Haar tuin was haar passie. Dis verskriklik dat so iets op dié dag moes gebeur,” het Singleton buite die hof aan Rapport gesê.

“Sy sou op 4 Januarie verjaar het, Carmen het op 11 Januarie verjaar, Debbie op 18 Januarie en in Desember het haar oudste kleinseun, Gregory Magid, getrou. Sy is twee weke gelede voor haar kleindogter, Stacey Magid, se 30ste verjaardag vermoor. Die kos wat my ma sou gaarmaak, was al in haar vrieskas.”

Barbara Fenton (74)
Hetta Potgieter (85)
Engela van Wyk (86)

Da Silva onthou die middag goed.

“Ek het my ma na haar huisie in Alberton Village gevat en ek is 16:00 daar weg. Die twee mans het 16:07 toegang gekry. Sewe minute. Dis al wat tussen my en hulle was. As ek langer gebly het, sou hierdie aaklige ding dalk nooit gebeur het nie.”

Magid val haar suster in die rede. “Haar moord was die sleutel tot die twee monsters se arrestasie. Sy het eintlik haar lewe opgeoffer om die lewe te red van die volgende bejaarde wat met hulle sou paaie kruis.”

Singleton se oë blits.

“’n Maand voor haar moord is hulle op borgtog vrygelaat ná die moord op Hetta Potgieter in Nelspruit.”

Die twee mans het verlede week skuld beken op aanklag van roof met verswarende omstandighede, maar ontken hulle het Fenton vermoor. Hulle beweer in hul pleitverduideliking iemand anders het haar vermoor nadat hulle daar weg is.

Carmen da Silva, Debra Magid en Gwen Singleton is steeds verslae oor die moord op hul ma, Barbara Fenton.

Hulle sê hulle is behoeftig en het by die kompleks aangeklop om skenkings te probeer insamel. Die rooftog het “op die ingewing van die oomblik” gebeur.

Die staat verwerp dit en sê daar is bewyse wat die beskuldigdes met die toneel verbind.

Regter Cassim Moosa het hulle gewaarsku hulle kan op grond van hul pleit op die aanklag van roof skuldig bevind word. Hy het die saak tot 2 Desember uitgestel.

Rapport het in September verlede jaar berig Marié Henning (70), ook van Alberton, het Oosthuizen en Du Plooy vroeër die dag van Fenton se moord by haar aftreewoonstel ingenooi.

“Die een het my gegroet as tannie Marie, toe sê ek vir hom ek is Marié. Hy het gesê hy soek sy tannie Marie Venter, haar man is twee weke gelede dood. Toe hy my kleremaakster-pop sien, het hy gesê sy tannie maak ook klere,” het Marié verlede jaar vir Rapport gesê.

Sy het hom nie geglo nie.

“Ek het gesê as ek sy tannie was, sou hy mos geweet het hoe ek lyk.”

Sy het onraad vermoed en vir die mans gesê familielede is op pad na haar toe. Hulle het toe die hasepad gekies.

’n Onberispelike bron in die polisie het aan Rapport gesê Henning se getuienis was die deurslaggewende deurbraak wat direk gelei het tot die twee mans se arrestasie.

“Die modus operandi in al drie moorde was eenders en daar is ook ander bewyse wat die beskuldigdes met die tonele verbind,” het die bron gesê.

Monica Nyuswa, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder in Mpumalanga, het bevestig die twee se verhoor weens Potgieter se dood hervat in Oktober volgende jaar.

Phindi Mjonondwane, Gautengse NVG-woordvoerder, het bevestig hulle word ook van die moord op Van Wyk aangekla.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.