Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Twis tussen rugbyleier en federasie nou na hoërhof

Die maande lange twis tussen Jerry Segwaba, president van die Vrystaatse Rugbyunie, en die Vrystaatse Sportfederasie het nou na die Vrystaatse hooggeregshof oorgespoel waar hy vra dat die besluit om hom uit die federasie te skop, hersien en nietig verklaar word.

Jerry Segwaba, president van die Vrystaatse Rugbyunie.Foto: Argief

Sy skorsing kan sy posisie as president van die rugbyunie in gedrang bring. In sy posisie as president is Segwaba terselfdertyd ook die direkteur van die maatskappy wat die Cheetahs besit sowel as ’n direksielid van die Suid-Afrikaanse rugbyunie.

Die Vrystaatse rugbyunie is deel van die Vrystaatse Sportfederasie.

Segwaba dien ook in die direksie van Sascoc, die moederliggaam van die Vrystaatse Sportfederasie en is voorsitter van twee van Sascoc se subkomitees.

In hofstukke ontken hy die bewerings teen hom. Dit behels onder meer dat hy onbevoeg is om in enige leierskapsposisie te dien en dat hy van alle sportbedrywighede geskors word totdat sy beweerde onskuld in ’n forensiese ondersoek bewys kan word.

Die bewerings teen hom is onlangs wyd bekend gemaak in ’n e-pos wat aan verskeie nasionale en provinsiale sportliggame gestuur is.

Dié e-pos is blykbaar gestuur nadat op ’n vergadering van die Vrystaatse Sportfederasie daaroor beraadslag is.

Segwaba sê in hofdokumente hy is nooit verhoor nie en is nie eens die kans gegun om sy kant van die saak te stel nie.

Volgens hom is “geen behoorlike prosedures” gevolg nie en is hy nie vooraf ingelig van die besluit om hom te skors nie.

Hy reken die federasie beskik boonop nie oor die mag om hom te kan skors nie en dat dié liggaam sy eie voorgeskrewe prosedures en gedragskodes sodoende verontagsaam.

Segwaba sê die manier waarop die kennisgewing versprei is en aan wie dit gestuur is, is bedoel om sy karakter, waardigheid en reputasie die grootste moontlike skade te berokken.

Hy sê dit bring die verskeie poste wat hy in die sportwêreld beklee, in gedrang. Hy dien reeds 35 jaar in verskillende administratiewe posisies in die sportbedryf, sê hy.

Die gewraakte e-pos van die Vrystaatse Sportfederasie is intussen onttrek met die verduideliking dat dit “verkeerdelik aan almal gestuur is” en eintlik net vir “sekere ontvangers” bedoel was.

Die onttrekking kom nadat Segwaba in ’n brief aan die president van die federasie op die bewerings in die e-pos reageer het.

Die federasie staan wel by die inhoud van die e-pos, hoewel dit onttrek is.

Intussen is Segwaba steeds in ’n afsonderlike stryd met die federasie gewikkel nadat hy in Desember 2019 as uitvoerende hoof afgedank is.

Dié saak is intussen vir arbitrasie verwys en word op 13 Augustus aangehoor.

Hannes Peyper van Peyper-prokureurs is Segwaba se prokureur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.