Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitbundige jong paar wat in ongeluk sterf, het voluit geleef – ma

Op pad terug van die stalle waar hulle verlede Saterdag hul perde gaan versorg het, was Bradley Venter (24) en sy lewensmaat, Roger Norris (23), in ’n klein botsing met ’n ander motor betrokke.

Sue Venter, ma van Bradley Venter, wat verlede Saterdag saam met sy lewensmaat van die afgelope vier jaar, Roger Norris, op ’n ongelukstoneel doodgery is. Sy sê die paartjie was flambojant en kleurvol. Foto: Elizabeth Sejake

Toe hulle uitklim om die skade te bekyk het ’n dronk bestuurder in hulle vasgejaag. Albei is op slag dood.

’n Voetganger wat ná die eerste ongeluk sy hulp aangebied het, is ook getref. Hy is in ’n kritieke toestand per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg vervoer.

Venter en Norris was die afgelope vier jaar ’n paartjie en onafskeidbaar.

Sue Venter (53), Venter se ma, sê haar seun en Norris was geesgenote en sou nie sonder mekaar kon lewe nie.

Sy het in haar 53 jaar nie soveel geleef soos dié 2 nie.

Hulle was op pad terug van die Welbekend-perdestalle, oos van Pretoria, waar hul perde, Moonlight en Dancer, gehuisves word. Venter was van kleins af baie lief vir perdry.

Hulle was op pad na hul kleinhoewe sowat 19 km buite Pretoria toe iemand omstreeks 18:30 aan die agterkant van hul GWM-dubbelkajuitbakkie vasry.

“Sover ons kan vasstel, het Bradley van ’n grondpad oor Garsfonteinweg gery toe die botsing gebeur,” sê Sue.

Al die betrokkenes het uitgeklim en beamptes van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy het stilgehou om die pad af te sper.

Bradley Venter en Roger Norris. Hulle is na bewering deur ’n dronkbestuurder doodgery. Foto: Facebook

Venter was geskok en het aan die kant van die pad gaan sit omdat hy sleg gevoel het.

Toe ploeg die kar teen ’n hoë spoed tussen hulle in. Die veiligheidsmaatskappy se motor se deur is afgery voordat die motor Venter-hulle se motor getref het.

Op daardie oomblik het Norris om die motor gestap na Venter toe. Hulle is albei op slag dood.

’n Vriendin wat agter die paartjie gery het, en op die toneel was toe die tweede ongeluk gebeur het, het vir Sue gesê sy het uit die hoek van haar oog gesien ’n kar kom met ’n geweldige spoed op hulle af.

Ek is hartseer dat hulle nie hier is nie, maar dit gaan my net seerder maak om wrokke te koester. Ek wil nie die bestuurder se las vir hom dra nie.

Sue en haar man, Hardus, het by haar suster in Bethlehem ge­kuier toe sy om 19:29 die oproep van Venter en Norris se dood kry.

Die paartjie se yorkshire-terriër-kruising, Daisy, en hul rottweiler, Aurora, woon tans by vriende en sal uiteindelik permanent by familielede gaan woon.

Sue sê sy is nie kwaad nie.

“Ek is hartseer dat hulle nie hier is nie, maar dit gaan my net seerder maak om wrokke te koester, terwyl ek eerder my kinders moet vier. Daar is soveel seer in die wêreld.

“Ek wil nie die bestuurder se las vir hom dra nie.”

Sy sê in haar 53 jaar op aarde het sy nie soveel geleef soos Venter en Norris nie.

“Hulle was uitbundig en het met hul hele wese gelewe. Wanneer hulle ons hartseer gemaak het, het hulle ons regtig hartseer gemaak en wanneer hulle ons gelukkig gemaak het, het hulle ons regtig gelukkig gemaak.”

Sy beskryf hulle as kleurvol en flambojant.

“Almal sê hoe hulle Bradley en Roger se teenwoordigheid gaan mis. Die leemte wat hulle laat is groot.”

Sersant Tsietsi Lamula, polisiewoordvoerder, sê die 27-jarige bestuurder is op twee klagte van strafbare manslag en een van dronkbestuur in hegtenis geneem.

Hy het reeds die afgelope Maandag in die landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn en sal weer Woensdag in die hof in Welbekend verskyn. Sy naam sal eers daarna bekend gemaak word.

Meer oor:  Pretoria  |  Strafbare Manslag  |  Ongeluk  |  Dronkbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.