Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak ‘verligting’ ná aanhouding in buiteland

’n Massiewe, groot verligting.

So sê Danie Janse van Rensburg (55), ’n inwoner van Hoekwil naby Wildernis wat byna twee jaar onregmatig in ’n tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou is, oor ’n hofbeslissing dat die land se adjunkpresident hom skadevergoeding van miljoene rande moet betaal.

Waarnemende regter James Lekhuleni het Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad gelas dat Teodorín Obiang, adjunkpresident van Ekwatoriaal-Guinee, Janse van Rensburg R9,9 miljoen moet betaal vir vergoeding vir algemene skade, R10 miljoen vir verlies aan inkomste en R20 miljoen vir verlies aan toekomstige inkomste.

Janse van Rensburg is in 2013 in die land in hegtenis geneem en in 2015 skielik vrygelaat. Hy was destyds in die land om ’n huurooreenkoms vir ’n vliegtuig met ’n sakeman en Obiang se oom, Gabriel Mba Bela Angabi, te finaliseer, maar die transaksie het skeefgeloop.

Hy is verhinder om die land te verlaat en in die berugte Black Beach-tronk aangehou.

Danie Janse van Rensburg Foto: Facebook

Janse van Rensburg het aangevoer hy is onregmatig aangehou en het ’n eis ingestel teen Obiang, wat volgens hom verantwoordelik was vir sy aanhouding.

In 2017 het die hooggeregshof in Kaapstad ’n beslagleggingsbevel aan Janse van Rensburg toegestaan vir twee van Obiang se wonings, een in Bishopscourt van R35 miljoen en nog een van R25 miljoen by Clifton se Vierde Strand. Obiang het die aansoek teengestaan, maar die finale beslagleggingsbevel is in Augustus 2019 aan Janse van Rensburg toegestaan.

Hy sê die hofsaak duur al sowat vyf jaar. “Dit is nou die afsluiting vir ons gesin.”

Hy is ook besig met ’n boek oor sy nagmerrie-ervaring. Dit sal binnekort uitgereik word.

“Ek sien die boek as iets positiefs wat uit al die slegte na vore gekom het,” sê hy.

In die boek vertel hy onder meer hoe hy saam met moordenaars, bendelede en diewe in die tronk aangehou is en ook malaria en ingewandskoors oorleef het.

Hy sê hy en sy vrou, Melanie, het geen planne om Hoekwil te verlaat nie. Die egpaar het twee kinders.

Meer oor:  Ekwatoriaal-Guinee  |  Aanhouding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.