Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak in moordsaak teen Francis uitgestel

Die uitspraak teen Walter Francis, ’n veroordeelde oud-polisielid, en sy makkers, wat vir moord teregstaan, is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth uitgestel omdat die staat sy saak wil heropen.

Francis, wat voorheen aan die Humewood-polisiekantoor verbonde was, dien tans tronkstraf van ses jaar uit vir strafbare manslag ná die dood van Denton Rademeyer.

Sy polisievuurwapen is in dié moord gebruik.

Walter Francis. In die beskuldigdebank sit Wayne Wabanie en Shamiel Gallant. Foto: Lulama Zenzile

Francis en sy medebeskuldigdes, Wayne Wabanie en Shamiel Gallant, was Donderdag gereed vir regter Elna Revelas se uitspraak toe Velile Makasana, die staatsaanklaer, ’n aansoek bring om die staat se saak te heropen.

In dié saak word die beskuldigdes aangekla van moord, sameswering om ’n moord te pleeg en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die staat beweer die beskuldigdes het Alex Nico Ferreira op 21 Februarie 2017 in Bethelsdorp vermoor.

Ferreira was in die Rademeyer-moordsaak ’n staatsgetuie teen Francis.

Volgens Makasana het hy ’n verklaring, wat Francis afgelê het tydens sy tweede aansoek om borgtog in die landdroshof, eers gekry nadat die staat sy saak gesluit het.

Die staat wil hê dié verklaring, waarin Francis sekere uitlatings rakende die beweringe teen hom maak, moet as bewyse by die hof ingedien word.

Makasana sê hy het gehoor van Francis se uitlatings tydens die borgtogaansoek voordat hy sy saak gesluit het, maar hy wou niks sê voordat hy die amptelike dokumente gekry het nie.

Hy het by navraag van Revelas gesê hy probeer al sedert Februarie om die dokumente te bekom. Hy kon dit Woensdag uiteindelik kry.

“Die uitlatings wat Francis tydens die borgtogaansoek in die hof gemaak het, bevestig die getuienis van die staat se sleutelgetuie,” het Makasana gesê.

Francis het Wabanie en Gallant na bewering in sy motor na die plek gebring waar Ferreira doodgeskiet is, luidens die klagstaat.

Adv. Hannelie Bakker, wat vir adv. Terry Price as Francis se regsverteenwoordiger ingestaan het, het kapsie gemaak teen Makasana se versoek.

Sy sê Makasana kon die verklaring al vroeër op verskeie maniere bekom het, onder meer deur die ondersoekbeampte, om Francis daarvoor te vra, of hy kon dit tydens kruisverhoor aan Francis gestel het.

Bakker meen die inligting wat die staat aan die hof wil voorlê, is heeltemal ontoepaslik.

Sy het die verklaring aan Revelas oorhandig en gesê die staat wil die stelling wat Francis gemaak het, tot ’n erkenning omswaai.

Revelas het sowel Francis se verklaring as die transkripsie van die vorige borgtogaansoek geneem om dit onder oë te kry.

Sy sal eers volgende week besluit oor Makasana se versoek om sy saak te heropen.

Ferreira het kort nadat Rademeyer in 2014 geskiet is, by sy suster in Durban gaan woon. Hy het in Desember 2015 na Port Elizabeth teruggekeer.

Tussen Desember 2015 en Februarie 2017 het die beskuldigdes saamgesweer om Ferreira te vermoor, beweer die staat.

Francis het Wabanie en Gallant na bewering in sy motor na die plek gebring waar Ferreira doodgeskiet is, luidens die klagstaat.

Wabanie en Gallant het glo die skote geskiet. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Meer oor:  Walter Francis  |  Port Elizabeth  |  Hof  |  Moordverhoor  |  Strafbare Manslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.