Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak in padwoede-saak weens Covid uitgestel
Johan Harmse en Carine van Staden voordat hulle die hofsaal in is. Foto: Deaan Vivier

Byna vier jaar ná ’n skietvoorval waarin ’n jong vrou ernstig gewond is, het die beskuldigde en die klaers Dinsdag op die oog af gespanne gewag dat uitspraak in die saak gelewer word.

Toe die saak in die streekhof in Pretoria-Noord egter uitgestel moet word omdat Jacob Ratsemane Marakalla se regsverteenwoordiger siek is, het ’n rou snik uit Carine van Staden se mond geglip terwyl Marakalla inderhaas die hofsaal verlaat het.

Landdros Pieter Nel sou Dinsdag uitspraak lewer in die saak waar Van Staden en haar lewensmaat, Johan Harmse, beweer hulle is tydens ’n padwoedevoorval aangeval, terwyl Marakalla beweer hy het Van Staden uit noodweer geskiet.

Die voormalige korporaal wat as lid van die weermag se BBP-beskermingseenheid die motorbestuurder van hooggeplaastes in die weermag was, het vroeër skuld ontken op aanklagte van poging tot moord op Van Staden, roekelose en/of nalatige bestuur met ’n amptelike weermag-Audi, die versuim om op ’n ongelukstoneel te stop en die rig van ’n vuurwapen op Harmse.

Van Staden het op 10 Augustus 2017 by die dood omgedraai nadat Marakalla haar by ’n rooi verkeerslig in Lavenderweg, Pretoria, geskiet het. Die koeël het haar hart net gemis.

Sy en Harmse het destyds getuig dat hulle op ’n motorfiets gery het toe Marakalla in ’n wit Audi A4 glo probeer het om hulle van die pad af te dwing.

Jacob Marakalla het eenkant in ’n hoek gewag totdat die saak teen hom geroep is. Foto: Deaan Vivier

In ’n stadium het die motor met ’n militêre nommerplaat Van Staden se voet glo met sy buffer getref. Toe die Audi daarna by die rooi verkeerslig stop, het Van Staden, volgens haar, van die motorfiets afgeklim en die bestuurder gekonfronteer.

Sy is toe geskiet.

Marakalla het op sy beurt getuig dat hy “angsbevange” was toe twee mense op ’n motorfiets teen skemeraand die ampsvoertuig “agtervolg” het, hom geskel en toe by die verkeerslig wou “aanval”.

Volgens hom het hy homself en die “minister se motor” probeer beskerm toe hy Van Staden geskiet het.

Die aanklaer, Daniel Mokoena, het Dinsdag aan Nel gesê dat Marakalla se regsverteenwoordiger nie daar is nie omdat hy positief vir die koronavirus getoets is. Die saak moes dus uitgestel word omdat Nel nie uitspraak kan lewer as die regsverteenwoordiger afwesig is nie.

Meer oor:  Carine Van Staden  |  Pretoria  |  Padwoede  |  Hof  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.