Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Uitspraak is einde van pad vir Afrikaans as onderrigtaal’

Dit is die einde van die pad vir Afrikaans as onderrigtaal aan openbare universiteite.

Só meen Danie Rossouw, vir Gelyke Kanse, nadat die konstitusionele hof in Johannesburg Donderdag beslis het die Universiteit Stellenbosch (US) se 2016-taalbeleid, wat Afrikaanse onderrig daar verwater, is in ooreenstemming met die Grondwet.

Die drukgroep Gelyke Kanse het ’n aansoek om verlof tot appèl aan die konstitusionele hof gebring om dié taalbeleid tersyde te stel sodat die 2014-beleid weer kan geld.

Ingevolge die 2014-beleid geniet Afrikaans gelyke status met Engels, maar in die 2016-beleid ontvang Engels voorkeur as die taal van onderrig.

Die hof het wel Gelyke Kanse se aansoek toegestaan om sy saak aan te hoor. ’n Meerderheidsuitpraak wat Donderdag gelewer is, het egter Gelyke Kanse se aansoek van die hand gewys.

In ’n minderheidsuitspraak, wat met die uitgangspunt van die meerderheidsuitspraak saamstem, is daar egter klem daarop gelê dat Afrikaans behoue moet bly, en ander inheemse tale ontwikkel moet word.

Dié minderheidsuitspraak doen ’n beroep op die burgerlike samelewing om hulpbronne beskikbaar te stel om private instellings van onderrig te stig.

Rossouw het ná die uitspraak gesê die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in die hoëronderwys lê nou in die hande van bewegings soos Solidariteit.

Solidariteit kondig toevallig Donderdag ’n nuwe kampus ter waarde van R1,5 miljard vir Akademia, sy private hoëronderwysinstelling, aan.

“Ek is bevrees die uitspraak beteken die einde van die pad. Afrikaans aan openbare universiteite sal stelselmatig wegkwyn totdat (die universiteite) heeltemal verengels,” sê Rossouw.

Regter Johan Froneman het Donderdag die uitspraak gelewer en gesê die droom dat Suid-Afrika se inheemse tale in openbare instellings gebruik word, moet lewendig gehou word.

“Die US was reg om te besluit dat die Afrikaanse aanbod verminder moet word, sonder om Afrikaans te blus,” sê Froneman.

Hoewel Engels ingevolge die US se 2016-taalbeleid nou voorkeur kry, kan studente steeds in Afrikaans klasloop as dit redelik en prakties moontlik is.

Volgens Froneman sê die US dat die meeste studente wat verkies om in Afrikaans klas te loop, dit wel kan doen. ’n Beduidende minderheid van studente kry egter nie ’n sê oor die taal waarin hulle onderrig word nie.

Rossouw sê hoewel die 2016-beleid ruimte laat dat Afrikaans steeds by die US gebruik word, gebeur dit nie in die praktyk nie.

“Dit hang nou van die studente daar af om die saak verder te voer,” sê hy.

Volgens Froneman sou die koste te hoog wees om Afrikaans en Engels op gelyke voet by die universiteit aan te bied.

“Boonop het die universiteit gewys dat wit en bruin Afrikaanse eerstejaarstudente die vermoë gehad het om in Engels klas te loop.

“Die 2014-beleid het swart studente uitgesluit. Die universiteit het ook gewys dat klasse wat in Afrikaans aangebied word en wat van tolkdienste gebruik maak om na Engels te vertaal, nie gehelp het om studente Afrikaans-magtig te maak nie en het hulle gemarginaliseer laat voel,” sê Froneman.

Verder sê Froneman dat die redes wat die universiteit aangevoer het om die 2014-taalbeleid aan te pas, geldig is.

Die US het aangevoer die ou taalbeleid het swart studente wat nie Afrikaans kan verstaan nie uitgesluit en verhinder om doeltreffend aan die universiteit te studeer.

Meer oor:  Afrikaans  |  Onderrigtaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.