Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak oor Afrikaans by Unisa ‘waterskeidend’

Die uitspraak van die appèlhof in Bloemfontein wat die omstrede taalbeleid van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), wat Afrikaans die afgelope vier jaar as onderrigtaal uitsluit, van die tafel te vee, is waterskeidend vir afstandsondderig.

Só sê Willie Spies, ’n prokureur van Hurter Spies Ing, nadat AfriForum se appèl teen ’n vroeëre hofbeslissing in die hooggeregshof in Pretoria dat Engels die primêre onderrigtaal aan Unisa moet wees, Dinsdag geslaag het.

Appèlregter Mandisa Maya, president van die appèlhof, het dié bevel Dinsdagmiddag tersyde gestel en só ook die besluite van die raad en die senaat van Unisa om ’n nuwe taalbeleid op 28 April en 30 Maart 2016 goed te keur.

Sy het dié taalbeleid ongrondwetlik en onregmatig verklaar en tersyde gestel in die mate waartoe Afrikaans as onderrigtaal daaruit verwyder is.

Die feit dat die hoogste hof van appèl hierdie uitspraak gelewer het, is van groot belang – dit is die hoogste hof wat nog ten gunste van Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak uitspraak gelewer het.

Volgens Spies, wie se firma die burgerregteorganisasie in die hofsaak verteenwoordig het, het die uitspraak geen invloed nie op residensiële universiteite, soos Maties of Kovsies, waar die taalbeleid reeds vroeër deur die grondwethof bekragtig is.

Hy sê hul argumente het juis daarop gefokus dat dit geen invloed op die ideale van transformasie en integrasie by Unisa sal hê nie, aangesien dit afstandsonderrig is en dat studente wat van hul huis af studeer, veeltalig is.

“Ons het meer tale nodig, nie minder nie.”

Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, is die uitspraak ná ’n stryd van amper vyf jaar van reusebelang vir alle Afrikaanse studente in die land, asook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.

“Die feit dat die hoogste hof van appèl hierdie uitspraak gelewer het, is van groot belang – dit is die hoogste hof wat nog ten gunste van Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak uitspraak gelewer het. Dat ’n kostebevel boonop teen Unisa gelewer is, bewys die morele hoëgrond van studente wat hul reg tot onderrig in hul moedertaal opeis.

“Dit is belangrik dat uiteindelik erken word dat toegang tot tersiêre studie uitgebrei moet word om nie net ruimte vir eerstetaal-Engelssprekendes te skep nie, maar meer moedertale te akkommodeer. Unisa het juis onlangs weer Afrikaans uitgesluit uit planne om personeel en studente aan te moedig om meer tale te bemeester. Die uitspraak beklemtoon dat Afrikaans ook ’n plek op staatsondersteunde kampusse het,” het sy gesê.

Die vraag ontstaan hoe ons hulle gaan oortuig dat Afrikaans vir hulle die moeite werd is om te behou, want hulle dink baie duidelik nie so nie.

Unisa bestudeer die uitspraak en sal later kommentaar lewer.

Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, sê dit is verblydend dat die hofsaak suksesvol was.

Volgens hom is dit op kort termyn goed vir Afrikaans, maar op lang termyn moet nagedink word of die oortuiging gewen is.

“Ja, die hofsaak, as ek tussen die lyne lees, is gewen, omdat die ordentlike prosesse ten opsigte van die taalbeleid nie gevolg is nie.”

Wat beteken dat Unisa weer ’n proses kan begin om Afrikaans uit te sny.

“Die vraag ontstaan hoe ons hulle gaan oortuig dat Afrikaans vir hulle die moeite werd is om te behou, want hulle dink baie duidelik nie so nie.”

Van hul kant af sal hulle hul deel doen om Unisa te probeer oortuig om Afrikaans as ’n onderrigtaal te behou, sê hy.

Prof. Belinda Bozzoli, DA-LP, sê die uitspraak is ’n oorwinning vir moedertaalonderrig en taaldiversiteit by tersiêre inrigtings oor die land heen.

“Net soos al ons inheemse tale, verdien Afrikaans gelyke beskerming en akademiese ontwikkeling.”

Meer oor:  Unisa  |  Willie Spies  |  Appèlhof  |  Uitspraak  |  Taalbeleid  |  Onderrigtaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.