Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak oor regulasies van inperking verwelkom

Die regulasies van vlak 3 van die staat van inperking is ongrondwetlik en ongeldig, maar bly van krag totdat gewysigde regulasies dit vervang.

So het prof. Koos Malan, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Dinsdagaand gereageer nadat regter Norman Davis die regulasies van vlak 3 en vlak 4 van die inperking in die hooggeregshof in Pretoria ongrondwetlik en ongeldig verklaar het.

Dít nadat Reyno de Beer en sy Liberty Fighters Network, ’n gemeenskapsvereniging, en die Hola Bon Renaissance-stigting vroeër ’n dringende aansoek teen die regulasies en teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in haar kapasiteit as minister van samewerkende regering en tradisionele sake ingedien het.

Nkosazana Dlamini-Zuma
Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: Getty Images

Die aansoekers het onder meer die regulasies en die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie as irrasioneel beskryf en die hof versoek om dit ongeldig en ongrondwetlik te verklaar.

Verder wou hulle hê dat alle byeenkomste geldig verklaar word onder sekere voorwaardes, terwyl hulle ook gevra het dat alle ondernemings, dienste en winkels toegelaat moet word om sake te doen onderworpe aan redelike voorsorgmaatreëls.

In die uitspraak het Davis onder meer bevind dat die verklaring van ’n staat van inperking in reaksie tot die pandemie rasioneel was.

Die uitspraak lui egter verder dat Dlamini-Zuma se promulgering van die regulasies vir vlak 4 en vlak 3 van die inperking egter nie rasioneel verbind kan word met die doelwitte om die infeksiekoers of die verspreiding van die koronavirus te vertraag nie.

In die uitspraak kap Davis ook na Dlamini-Zuma wat eers haar antwoordende hofstukke laat ingedien het en daarna haar direkteur-generaal opdrag gegee het om die aansoek namens haar teen te staan.

Die hof het sy verklaring van ongeldigheid vir 14 dae opgeskort. Dit beteken dat die regulasies vir vlak 3 steeds geld

Die regter het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die gebrek aan samehorigheid van die departement se kant af veral ten opsigte van al die ander hofsake wat ook teen die regulasies, of ’n deel daarvan, ingedien is.

Van die ander wat gelys word, is dié van die DA, AfriForum en die Fair-Trade Independent Tobacco Association wat almal die regering oor verskillende aspekte van die regulasies takel.

Phumla Williams, kabinetswoordvoerder, het Dinsdag in reaksie op die hofuitspraak gesê dat die regering daarvan kennis geneem het.

“Die hof het sy verklaring van ongeldigheid vir 14 dae opgeskort. Dit beteken dat die regulasies vir vlak 3 steeds geld.”

Volgens Williams het die hof ook vir Dlamini-Zuma opdrag gegee om die regulasies in konsultasie met die relevante ministers te hersien, te wysig en te herpubliseer.

Die kabinet sal ’n verklaring uitreik sodra dit die uitspraak bestudeer het.

“Die kabinet sal ’n verklaring uitreik sodra dit die uitspraak bestudeer het,” sê Williams.

Malan sê dat die hof sy uitspraak vir 14 werkdae opgeskort het, wat Dlamini-Zuma tot 24 Junie gee om ander regulasies uit te vaardig wat moet voldoen aan die vereistes van die hof.

Intussen het die organisasie Tax Justice South Africa Dinsdagaand die uitspraak verwelkom en pres. Cyril Ramaphosa aangeraai om ware leierskap te toon en veral die verbod op die verkoop van sigarette onmiddellik op te hef.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het gesê die uitspraak bevestig die DA se standpunt dat baie van die regulasies “beuselagtig, irrasioneel en onredelik” is en dat die uitspraak die eerste van baie teen die regering sal wees.

“Laat dit ook die eerste in ’n reeks lesse vir daardie magsdronk outokrate wees. Dit is ’n demokrasie en nie ’n persoonlike koninkryk nie en ons is  burgers, nie onderdane nie,” het Steenhuisen bygevoeg.

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het gesê die hofuitspraak moet gerespekteer word.

“Dit het verreikende gevolge vir die president en sy raadgewers. Suid-Afrika is gebou op die regte van mense en as Cope is ons bekommerd oor die besluite wat deur die nasionale Covid-19-bevelsraad geneem word wat indruis teen die regte van mense.”

Narend Singh, IVP-LP, sê die uitspraak het vertroue in die regstelsel verstewig en dat die regering nou 14 dae het om oor die regulasies te konsulteer en dit te wysig.

AfriForum het ook die uitspraak verwelkom.

Volgens Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, is die regulasies “ ’n onregverdigbare skending van mense se basiese vryhede” en is hulle gereed om voort te gaan met regsaksies om die tabak-, skoonheids- en restaurantbedryf by te staan.

Meer oor:  Nko­Sazana Dlamini-Zuma  |  Regter Norman Davis  |  Reyno De Beer  |  Regulasies  |  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Uitspraak  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.