Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak in bedrogsaak teen Komani-boer kom later

’n Boer van die Komani (Queenstown)-distrik wat van diefstal, vervalsing en bedrog van meer as R1 miljoen aangekla word, sal binnekort hoor wat sy lot is.

Uitspraak in die saak teen Jacques de Bruin sou Vrydag in die landdroshof in Gqeberha (Port Elizabeth) gelewer word, maar dis tot 21 Mei uitgestel omdat die landdros nie gereed was nie.

Die staat beweer dat De Bruin vleismerinolammers en melkkoeie onwettig verkoop en fakture vervals het.

De Bruin het tussen September 2013 en April 2015 ’n kredietgerief by die OVK Groep gehad. Hy het in 2014 suksesvol om ’n produksierekening aansoek gedoen om voer, medisyne en lekke vir sy beeste aan te koop.

Die vereiste was dat hy die voer regstreeks by OVK moes koop. Indien die OVK nie voorraad gehad het nie, moes hy ’n faktuur van ’n verskaffer by die OVK indien sodat die verskaffer betaal en sy produksierekening gedebiteer kon word.

Die staat beweer hy het in 2014 dokumente vervals dat sekere persone veevoer aan hom verskaf het. Omdat OVK nie rede gehad het om dié dokumente in twyfel te trek nie, is betalings van R1 055 400 aan die “verskaffers” gemaak.

Luidens die klagstaat het die beskuldigde glo ook in Desember 2013 (in Komani) ’n skriftelike ooreenkoms met Johan Potgieter gesluit om 249 vleismerinolammers en 15 vleismerinoramme (die kernkudde) van 1 Desember 2013 tot 30 November 2018 te huur.

Die huurooreenkoms was vir 100 lammers van 40 kg elk per jaar teen die einde van Januarie elke jaar, beginnende Januarie 2015.

Luidens die ooreenkoms sou die kernkudde Potgieter se eiendom bly en hy kon sy kudde van tyd tot tyd inspekteer. Dit sou eers aan die einde van die huurooreenkoms De Bruin se eiendom word.

Potgieter wou die kernkudde in Mei inspekteer, maar pogings om met De Bruin kontak te maak was glo vrugteloos. Volgens die klagstaat het De Bruin glo gebieg dat hy van die skape verkoop het.

Potgieter het ’n verlies van R383 700 vir die kernkudde gely en ook 300 lammers verloor.

De Bruin het verder ’n huureenkoms aangegaan met Johannes Christoffel de Wet, Christo Charl du Toit en Ian Sheard om melkkoeie by hulle te huur.

Die koeie was te alle tye die eiendom van die drie boere, en moes aan die einde van die huurkontrakte aan hulle terugbesorg word.

Indien ’n koei sou vrek of geslag word, moes dit vervang word met ’n koei van dieselfde ouderdom en in dieselfde fase van laktasie.

Luidens die klagstaat het De Bruin glo die huur betaal sonder om die boere in te lig dat daar probleme met hul koeie is. Hy het glo van die koeie verkoop.

Luidens die klagstaat het De Wet 63 koeie van R630 000 verloor, terwyl die skade van Du Toit 71 (R687 990) en Sheard 93 (R853 034) beloop.

De Bruin ontken skuld op al die aanklagte.

Meer oor:  Komani  |  Queenstown  |  Hof  |  Boer  |  Diefstal  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.