Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak verwag oor terugtrek van klagte teen Modise

Uitspraak in Thandi Modise se aansoek dat die aanklagte van dierewreedheid teen haar teruggetrek word, word Vrydag in die Potchefstroomse streekhof verwag.

Modise, speaker in die parlement, se verhoor op ses aanklagte verbandhoudend met die erge verwaarlosing van diere op haar plaas naby Potchefstroom, het vandeesweek hervat.

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) het in Julie 2014 op haglike toestande op die plaas afgekom.

Luidens die klagstaat moes die NRDBV meer as 224 erg verswakte diere op Modise se plaas van kant maak. Daar was meer as 147 varke, 59 skape, 11 lammers, 54 bokke en ganse op die plaas.

Dali Mpofu, Thandi Modise
Thandi Modise Vrydagoggend in die hof. Foto: Susan Cilliers

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het besluit om Modise nie te vervolg nie omdat hy gemeen het daar is nie genoeg bewyse om haar verantwoordelik te hou vir die omstandighede nie.

AfriForum het daarna besluit om Modise namens die NRDBV privaat te vervolg.

Ferdi van Aswegen, ’n dierevoedingkundige, het vroeër getuig die varke was al agt maande vóórdat die NRDBV op die plaas was, uitgeteer en het gevrek. Toe hy die plaas in November 2013 besoek het, was hy “ontsettend geskok” oor die toestand van die diere en het hy gesien hoe varke aan dooie varke se karkasse vreet.

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts, het getuig dit lyk of van die diere waarvan die verrottende oorblyfsels in Julie 2014 op die plaas gevind is, omtrent 18 maande tevore al gevrek het. Abbas het ook getuig die meeste lewende diere op die plaas was ooglopend verswak, het spierverlies en prominente beendere gehad.

AfriForum het Donderdag sy saak gesluit.

Adv. Dali Mpofu, Modise se advokaat, het toe ’n aansoek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet gebring dat die aanklagte teen Modise teruggetrek word.

Hy het aangevoer sy het reeds kort nadat die omstandighede op haar plaas ontdek is, gesê sy was nie bewus van die lyding van die diere nie omdat ’n plaasbestuurder in beheer was.

Mpofu voer aan die aanklagte teen haar is polities gemotiveerd om haar in die verleentheid te stel.

Hy meen die aanklagte teen Modise dat sy die diere doelbewus laat ly het deur nie toe te sien dat hulle genoeg kos het nie, kon geensins bewys word deur enige van die staat se getuies nie omdat sy juis sê sy was nie bewus van die toestande nie.

Mpofu voer aan dit verskaf ’n “soort alibi” aan haar en dat die eintlike skuldige Tebogo Mokaedi, haar plaaswerker, is.

Hy het onder kruisondervraging erken hy het die plaas einde Junie 2014 verlaat en die diere alleen gelos, maar gesê hy is nooit betaal in die tien weke wat hy op die plaas gewerk het nie.

Volgens hom het hy nie ’n keuse gehad nie omdat die voer opgeraak het, hy self honger gely het en varke op strepe begin vrek het.

Mokaedi het getuig voer is een keer afgelewer, maar nadat dit opgeraak het en hy gevra het vir nog, is niks daarna weer afgelewer nie.

Mpofu voer ook aan daar was wel genoeg voer op die plaas. Hy grond dit op die feit dat een getuie (met geen landbou-agtergrond nie) getuig het hy vermoed daar was wel genoeg voer, maar dat dit te gou opgeraak het omdat die plaaswerker dit onoordeelkundig gebruik het.

Hou Netwerk24 dop vir meer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.